patrick-ward-bVovHygDlJI-unsplash
| DeurAfriForum

Hierdie land is my murg en bloed

Hierdie skrywe vorm deel van AfriForum Jeug se 2023 meningstukkompetisie. Dit is dus nie deur ʼn verteenwoordiger van AfriForum geskryf nie en die mening van die skrywer weerspieël nie noodwendig AfriForum se standpunte nie.

“Dis ’n land van kleure en klank,

dis ’n land van oorvloed en dank,

dis die land waar almal na strewe.”

Toe gaan die krag af.

Sommige Suid-Afrikaners sal miskien saam met ouma Hettie stem wanneer sy sê ons HETTIE geld nie, ons HETTIE krag nie en Eskom HETTIE ’n benul hoeom dit reg te maak nie.

Dit mag waar wees, maar die een enkele feit wat so helder brand soos die enigste, werkende straatlig in Selbornelaan, en wat mens nie kan miskyk nie, soos die slaggat in Burgerlaan, is dat hierdie land onlosmaaklik deel is van ons murg en bloed.

Murg-en-bloed-Suid-Afrikaners fokus nie op wat ons nie HETTIE, maar weet: ons HET ’n mooi land, ons HET ’n positiewe lewensuitkyk en ons het HET ’n humorsin.

Ek lees op DownToEarth van 6 September 2022, alhoewel die rommelhope in die Hennopsrivier groter is as die rommelstatus van die ekonomie, is Suid-Afrika steeds een van die mooiste, mooi lande in die wêreld. Wie DURF met hierdie baie fyn waarneming en intelligente opmerking verskil? Dink aan die Vrystaatse vlaktes en die Instagram-mooi sonsondergange in Hartenbos. As ons nie elektrisiteit HETTIE, dan HET ons nog Nossob se melkweg vol sterre.

Boonop het Suid-Afrika byna geen natuurrampe nie. Volgens die webwerf www.weatherstation.com beleef die Verenigde State ongeveer 1 200 tornado’s per jaar. Japan het ’n gemiddeld van 1 500 aardbewings per jaar. Suid-Afrika het laas in 2014 so erg gebewe en tornado’s tref net Welkom of Brakpan elke twee jaar. Omdat ons ’n mooi land het, maak murg-en-bloed-Suid-Afrikaners riviere skoon, tel papiere op en leef groener. Ons sing nie saam met Die Heuwels Fantasties oor klein tambotiebome nie, ons plant spekbome, ondersteun Kragdag en sien beurtkrag as ’n geleentheid om sonkrag te installeer. Alles omdat “hierdie Bosveld Afrika”, in die woorde van Bok van Blerk, deel is van ons murg en bloed.

As die land se inkomstesyfer maar net so hoog was soos die misdaadsyfer, het ouma HETTIE dalk minder gesug as sy Spar toe gaan. Murg-en-bloed-Suid-Afrikaners weet egter, om elke donker statistiek is ’n goue randjie. Daarom leef ons positief.

Volgens Trevor Noah hoef ons nooit soos die Midde-Ooste oor bomplanters bekommerd te wees nie. Nog voor die terroris kan kyk hoekom sy bom nie ontplof nie, is die sak al gesteel. Nog voordat hy vanaf Iran na Suid-Afrika kan vlieg, is SAL se Boeings se petrol op. Ek vra vir jou, wie kan hieroor negatief wees? Wie kan nie positief wees nie as jy weet:

– ons HET van die wêreld se beste universiteite;

– die Rugywêreldbeker pryk in die vertoonkas; en

– ons HET die mooiste taal, Afrikaans, in die wêreld.

Carike Langner (19)

“Ons het ’n mooi land. Ons het geleenthede en ons het ’n toekoms om na uit te sien. Daarom lewe ons dankbaar, is ons diensbaar en droom ons groot.”