Hendrina Joubert: Proaktiewe uitgangspunt eerder as ’n slagoffersingesteldheid
Frans de Klerk
Die Afrikanervrou vertolk verskeie rolle deur ons volk se oorsprong, strewes en oorlewing. Telkens word rolle soos beskermer, boer, waarheidswyser, strateeg en selfs aanvoerder deur Afrikanervroue opgeneem.
Die eer hier gaan nie net aan elke enkeling nie (hoewel daar selfs boeke oor die heldedade van Afrikanervroue geskryf is, en nog baie geskryf kan word), maar deur die bank is daar ’n unieke vreesloosheid wat aan die Afrikanervrou toegeken kan word.
Hendrina “Vreeslose Drienie” Joubert was een van ons volk se sterkste vroue. Daar was min dinge wat vir Hendrina onmoontlik gelyk het. Telkemale word ’n proaktiewe uitgangspunt eerder as ’n slagoffersingesteldheid by haar opgemerk.
Die bekendste verhaal van Hendrina is heel waarskynlik die dag wat sy vroualleen gesien het hoe die Kakies Majuba bestyg. Soos die verhaal lui, is die Britte in hul rooi baadjies die Majuba-berg uit deur die aand van 26 Februarie – om só die taktiese hoë grond te bereik voordat die Boere dit kon benut. Vroeg die oggend van 27 Februarie sien Hendrina die spul opklouter, kanon en al, en maak dit so spoedig moontlik bekend aan onder andere haar man, genl. Piet Joubert. Aanvanklik het Hendrina se waarskuwing op dowe ore geval. Die mans wou nie hoor dat ’n weermag Britte hulle só maklik sou kon omseil nie.
“Jy het heelwaarskynlik ’n troppie bokke of bobbejane raakgesien,” kom dit van een van die generaals.
“O, ja? En van wanneer af dra bobbejane rooi baadjies?” het die skerpsinnige Hendrina geantwoord.
Hierna is ’n groepie Boerevrywilligers bymekaar gemaak. ’n Enkele, eenvoudige opdrag is aan hulle gegee: “Die Kakies is op Majuba en julle moet hulle daar gaan afhaal.”
Afgehaal is hulle daar afgehaal – en dit was die einde van die Eerste Vryheidsoorlog.
Nou wonder ek: Wat as Hendrina niks gesê het nie?
Op papier klink dit na ’n eenvoudige besluit om te maak. Sien jy ’n Kakie, dan laat jy van jou hoor. ’n Mens moet egter die konteks van daardie tyd in gedagte hou. Hier sit die Boere in die middel van ’n oorlog teen die grootste ryk op aarde van daardie tyd. Ons oupas, pa’s, mans en broers sterf. Elke volgende stryd, gewen of verloor, tref baie harder aan ons kant. Brittanje het bloot net meer hulpbronne as ons.
Dan is daar die kwessie van Hendrina Joubert se plek rondom die oorlogstafel. Vroue speel in tye van oorlog sterk ondersteuningsrolle. Dit is hulle wat opbou daar waar afgebreek word. Hulle is versorgers en verseker dat die mans kan aanhou veg. Hulle troos dié wat moedeloos word, en hulle bring die hoogmoediges weer terug aarde toe. As die mans die spreekwoordelike swaard was, dan was die vrouens die skild. Elkeen het sy rol gehad, maar die een kon nie sonder die ander nie.
Hendrina was egter ’n Afrikanervrou – iemand wat haar nie laat voorsê waar haar plek behoort te wees nie. Ja, sou dit iemand anders wees wat die Kakies daardie oggend opgemerk het, dan sou hulle heel waarskynlik presies dieselfde doen, maar hoeveel sou met soveel sekerheid voor die oorlogstafel gaan stry? As jy hier ’n fout maak, dan kan dit lewens kos. Die meeste sou heelwaarskynlik twee keer dink, hul sê sê en die res in die bekwame hande van jou generaals los. Nie Hendrina nie. Selfs al sou haar vertolking van die vorige aand se gebeure nie aanvaar word nie, kan ek met sekerheid sê dat sy ’n ander plan sou maak – al was dit om sélf die Kakies van Majuba te gaan afhaal. Hendrina was vreesloos.
Die karakter van Hendrina Joubert is een wat ek vandag steeds in Afrikanervroue sien voortleef. Dit is ’n karakter wat hul mans van tyd tot tyd op hul plek sit; een wat patetiese verskonings by die deur uitgooi. Een wat nie tyd het vir nonsens as daar groter probleme is nie.
Bowenal is dit ’n karakter wat eerder proaktief ’n verskil maak as om ’n slagoffersingesteldheid te aanvaar.