AfriForum Jeug neem hande met Solidariteit Helpende Hand

Die jeugvleuel van AfriForum se Helderbergkom-tak het op 23 April 2019 die kinders van Ons Plek-sentrum in die Strand besoek.

Maresa Visser, voorsitter van die jeugvleuel van AfriForum se Helderbergkom-tak, het besluit om uit te reik na die behoeftige kinders van die Ons Plek-sentrum in die Strand wat deur Solidariteit Helpende Hand geadministreer word. Helpende Hand doen uitstekende werk om armoede te help verlig, te voorkom en te verbreek. AfriForum Jeug het besluit om die kinders te bederf met ’n sjokolade en het ook ’n teologiestudent van die Universiteit Stellenbosch genooi om die Christelike verhaal van Paasfees aan die kinders te vertel.

“Met die kommersialisering van Paasfees gaan die Christelike komponent daarvan verlore. Ons wou nie net Paaseiers of hasies uitdeel nie, maar ook die Christelike verhaal aan die kinders oordra. Ons het daarom vir Mattheus Vorster van Maties genooi om die Paasverhaal aan die kinders te vertel,” sê Visser.
“Dit is wonderlik om te aanskou hoe AfriForum se Helderbergkom-tak in die leiers van die toekoms belê en op hul Christelike fondasie bou,” sê Deon de Jager, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland.

Raak vandag nog by dié tak se jeugstrukture betrokke en help om ’n verskil te maak: Stuur ’n e-pos na bernard.pieters@afriforum.co.za of SMS “Helderbergkom” na 32687 (R1).