stijn-swinnen-qwe8TLRnG8k-unsplash
| DeurAfriForum

Die vrot karkas van ’n koninkryk …

Hierdie skrywe vorm deel van AfriForum Jeug se 2023 meningstukkompetisie. Dit is dus nie deur ʼn verteenwoordiger van AfriForum geskryf nie en die mening van die skrywer weerspieël nie noodwendig AfriForum se standpunte nie.

Hoekom wil ek in Suid-Afrika bly? Hierdie vraag het op my selfoonskerm opgeduik op ’n  sonnige Donderdagoggend toe ek deur my WhatsApp-statusse geblaai het. En hier is ek nou – besig om oor my antwoord te skryf.

Vir jong Afrikaners is dit seker een van dié belangrikste vrae om te antwoord. Ek is seker jy, my liewe leser, kan net soos ek ’n paar name opnoem van vriende en kennisse wat besluit het om eerder nie in Suid-Afrika te bly nie. So hoekom bly ons?

Hier is ’n paar gedagtes, vanuit die hart van ’n Christen-Afrikaner wat hoop het vir die toekoms, en graag eendag in Afrikaanse grond begrawe wil word.

Die wêreld is ’n slagveld

As jy ’n beeld moes gebruik om hierdie wêreld te beskryf – watse beeld sou jy kies?

Die beeld wat ek verkies is van ’n oorlog: ’n slagveld. ’n Gevegsterrein waar die slagordes van Lig afstorm op die slagordes van Duisternis – swaarde in die hand en dalk hier en daar ’n mes tussen die tande.

Pas hierdie beeld nie goed by ons wêreld nie? Daar is pyn; daar is leed; daar is lyding; daar is booswigte, rampokkers, skurke; maar daar is ook edelheid, helde, avontuur en ware glorie. Goed en sleg. Goed teen sleg. Die wêreld is ’n slagveld.

Dit is hoe die wêreld lyk en Suid-Afrika is nie ’n uitsondering nie. Ons het aaklige dinge hier in hierdie juweel van ’n land. Ons het plaasmoorde, beurtkrag, ’n krimpende ekonomie en korrupte staatsamptenare. Maar daar is ook goeie dinge: die strewe na selfstandigheid, die oplewing van ’n  kultuurbesef, die weerstand teen korrupsie.

Die goeie en die slegte is in Suid-Afrika – en in Australië en in Europa en in die Verenigde State. Wil jy regtig weghardloop van die stryd om die goeie hier en hoop jy gaan dit daar ontwyk? Kom ons wees realisties.

Daar is boosheid, orals. Die vraag is: Wat maak jy daarmee?

Glorie kom net deur lyding

Die slegte nuus is: Daar is ’n oorlog aan die gang, waar jy ook al gaan. Die goeie nuus is: ’n Oorlog is die enigste plek waar helde gekweek word.

Hierdie is ’n belangrike waarheid: Glorie kom net deur lyding. Helde kom net uit oorloë. Die goed-voel gesegde van diamante wat net onder die swaarste druk gevorm word is toe nie verkeerd nie.

Daar is geen eerbaarheid in lafhartigheid nie. Daar is geen eerbaarheid daarin om van gevaar te vlug nie. Maar daar is eerbaarheid daarin om die boosheid in Suid-Afrika in die gesig te staar en – ten spyte van lyding – daarteen te veg.

Die vrot karkas van ’n koninkryk …

Die kerkvader Tertullianus het gesê: “Die bloed van die martelaars is die saad van die kerk.” In ’n  podsendonderhoud wat ek nie weer kan vind nie, het die bekende fantasieskrywer N.D. Wilson daarop uitgebrei, “… and the rot of an Empire is the compost in which it grows.”

Dit is moontlik om te kyk na die situasie en die vallende koninkryk van die “Nuwe” Suid-Afrika te sien – en te besluit dat daar geen hoop is om dit te red nie. Dit is ook moontlik om dit te sien en bly te wees oor al die potensiaal wat dit skep.

Ons fokus maklik op die negatiewe, maar ons moet die positiewe ook raaksien. Hierdie kommunistiese koninkryk van SEB-diskriminasie en grondonteiening sonder vergoeding is besig om te val. Die plante wat deur sy karkas gaan opkom gaan baie kompos hê.

Dít is, op die ou end, waarom ek in Suid-Afrika bly.

Pieter van Deventer (23)

“Glorie kom net deur lyding. Helde kom net uit oorloë.”