Foto 1
| DeurAfriForum

Die Universiteit van Pretoria en die EFFSC: ’n rassistiese alliansie?

Deur Henno Nel

Die Universiteit van Pretoria (UP) was die laaste ruk baie in die kollig na die mees onlangse studenteraadverkiesing, waar lede van die Economic Freedom Fighters se UP Student Command (EFFSC UP) die strate van Pretoria op horings geneem het deur laatnag amok te saai en dreunsange soos “Kill the Boer” te sing.

Eers het die universiteit doodstil gebly oor die onverskoonbare dade van die EFFSC UP. Ná die publiek dié optrede van die universiteit erg veroordeel het, het die universiteit se onafhanklike verkiesingsmoniteringspaneel, oftewel die Independent Monitoring Board (IMB) besluit om die skuldige EFFSC-lede van die SR te skors.

Die EFFSC UP reël ’n optog waar die advertensie (sien foto hieronder) ook op die EFFSC UP se X (voorheen bekend as Twitter) gedeel is.

(Bron: https://x.com/EFFSC_UP/status/1706300808415850857?s=20)

Die EFFSC UP was nie gelukkig met die diskwalifisering nie. Hulle besluit toe om die strate in te vaar en net nóg meer amok en onmin te saai. Ingange word met stene versper en asblikke word aan die brand gesteek. Hulle gaan na al die universiteit se hekke waar hulle besluit om slegs swart studente in en uit te laat. Een van die voorbokke skree: “Only black students, only black students to enter!”

Na dié blatante rassisme van die EFFSC UP-studente sal mens dink die universiteit sal onmiddellik stappe neem teen dié studente wat hulself aan rasseuitsluiting skuldig maak, maar nee, weereens stilswye.

Hoe kan enige universiteit met integriteit sulke gedrag duld?

Ek het dus ’n e-pos aan die universiteit gerig om my ontevredenheid uit te druk, en om ook die universiteit se kant van die saak te hoor.

Mnr. Rikus Delport, direkteur van institusionele bevordering en woordvoerder van die UP, se woorde lui as volg: “Dit is belangrik om daarop te let dat die insident waarna jy verwys buite die hekke van die kampus plaasgevind het en dat, sover ons kon vasstel, geen universiteitstudent daarby betrokke was nie. Die optog het bestaan uit ondersteuners van ’n politieke party en is deur die streekkantoor van die party gelei. Aangesien dit nie op die kampus self plaasgevind het nie, beperk dit die Universiteit se vermoë om direk daarteen op te tree. Die polisie is ingeroep en was teenwoordig tydens die insident.”

Ek vind dit heel interessant dat die universiteit sê dat sover hulle kon vasstel geen universiteitstudent by die insident betrokke was nie, alhoewel die bewusmaking van die optog op die EFFSC UP se sosiale media versprei is en daar duidelik gevra word om saam met die EFFSC UP teen die Universiteit van Pretoria te betoog.

Maandagoggend 9 Oktober het AfriForum Jeug besluit om op ’n ander manier antwoorde van die universiteit, wat tot op hede hulself skandelik van die insident distansieer, te kry. Die jeugorganisasie het plakkers op UP se hekke geplak wat woorde bevat soos “Blacks only” en “No whites allowed.”

Die universiteit het nie versuim om hierop te reageer nie. Dié optrede is binne ure veroordeel en die universiteit dreig met dissiplinêre stappe teen die persone wat die plakkers opgesit het.

Dit is uiters vreemd … Die universiteit het die wêreld se verskonings gehad om stappe te neem toe die rooi golf presies dieselfde woorde buite die universiteitshekke uitbasuin het, en terselfdertyd die ingange versper het en onrus gesaai het. Daadwerklike rasseuitsluiting!

Hoekom is die universiteit nou skielik so ywerig om stappe te neem teen diegene wat slegs doodeenvoudige plakkers, wat die woorde van die EFFSC UP aanhaal, geplak het? Die UP tree dus eerder op teen ’n organisasie wat opstaan teen rasseuitsluiting, eerder as teen die organisasie wat rasseuitsluiting gepleeg het.

Klink vir my soos skreiende dubbele standaarde.

Die UP het verder ook verlede week erken dat hul eie beleide rassisties is toe hulle geweier het dat AfriForum Jeug plakkate opsit wat inligting vanuit die universiteit se rassebeleide uitlig. Dit sê net een ding … Die UP en die EFFSC het dalk een ding in gemeen: albei maak hulself aan rassisme skuldig.