Bernard-Pieters-feat
| DeurMedia

Black Lives Matter vs. All Lives Matter en Doublethink

Doublethink is ’n woord wat sy ontstaan in George Orwell se boek 1984 gekry het. Dit is ’n proses van indoktrinasie waar daar van die persoon of groep verwag word om dit wat onwaar is, as waar te aanvaar, of om terselfdertyd twee wedersyds teenstrydige oortuigings as korrek te aanvaar, dikwels in stryd met wat ’n mens se eie herinneringe of sin van die werklikheid is, deur feite te ignoreer of oor te skryf.

President Cyril Ramaphosa sê vandeesweek dat alle moorde, dus lewens, saak maak. Dit kom kort nadat hy sy steun aan die Black Lives Matter (BLM)-groep uitgespreek het. Rachel Kolisi, vrou van die rugbyspeler Siya Kolisi, sê All Lives Matter (ALM) “stinks of white privilege”.

Het president Ramaphosa dan nou volgens haar ook “white privilege”?

BLM-ondersteuners in die VSA het ’n jong ma van 24 doodgeskiet nadat sy gesê het dat alle lewens saak maak. Is Ramaphosa dus nou pro-BLM of pro-ALM? Want die BLM en die linkse groepe en individue in Suid-Afrika is duidelik van mening dat jy nie albei kan ondersteun nie.

’n Medestigter van die BLM-beweging beskryf haarself as ’n opgeleide Marxis en kommunis. Die teorie leer duidelik dat die doel van kommunisme omverwerping van kapitalisme deur ’n revolusie is. Tydens die onwettige besetting van die Capitol Hill Autonomous Zone (CHAZ) in Seattle het betogers gesê hulle is bereid om als te doen wat nodig is om hul doel te bereik. Kommunisme fokus ook op die uitwissing van geskiedenis, geloof, persoonlike eiendom en vryheid van spraak.

Die BLM het reeds talle standbeelde verwoes, kerke gevandaliseer en gesteel – laasgenoemde word as ’n “unplanned donation” beskou.

Vryheid van spraak word ook nou ingeperk deur veral tersiêre instansies en mediahuise wat sekere menings en terme as problematies en ongemaklik beskou (die “safe space”-idee).

Die kersie op die koek is die BLM se beleid tydens die besetting van CHAZ. Lesers sal onthou hoe dié en ander linkse elemente in die VSA die muur op die suidelike grens van die land veroordeel het en rassisties van aard genoem het. Tog was ’n muur een van die eerste infrastruktuurveranderings wat hulle aangebring het om mense van wie hulle nie hou nie, uit te hou. Hulle het ook jare lank die ontwapening van die VSA ondersteun en wil nou hê dat die polisie ontbind word of hulle befondsing drasties besnoei word. Tog was ’n gewapende groep veiligheidswagte ook een van die eerste veranderinge wat hulle ingestel het, en een van die eerste moorde was dié op ’n swart 16-jarige. Onder andere is ’n 14-jarige ook gewond.

Die meeste mense met wie ek al gepraat het wat die BLM ondersteun, ondersteun die beweging oor dit wat hulle sê en wat die media oor hulle berig. Die dade soos hierbo gelys en hulle ideologie word natuurlik nie deur agendagedrewe mediahuise gedra nie. Die meeste van hierdie mense ondersteun die BLM uit goedhartigheid en dink dat dit wat die BLM sê, waar is. Ongelukkig is dit nie die geval nie. Verduidelik aan ’n BLM-ondersteuner waarvoor die organisasie staan en wys hulle dade uit eerder as om so ’n persoon te kritiseer.

Stuur die artikel aan en oorreed hulle met die feite.

AfriForum Jeug se standpunt is dat die dood van enige onskuldige persoon verkeerd is. Wanneer “ras” of enige ander soortgelyke woord egter voor die woord “geregtigheid” gebruik word, is dit nie meer geregtigheid nie, maar ’n politieke agenda waarvoor die dood van onskuldiges gebruik word.

Bernard Pieters is ’n bestuurder by AfriForum Jeug.