Bernadette Hall01
| DeurAfriForum

Bernadette Hall: ’n simbool van deursettingsvermoë en hoop

Henno Nel

Bernadette Hall en haar man, David, is in 2012 deur vyf mans op hul plaas Frischgewaagd naby Fochville aangeval. David is in die aanval oorlede en Bernadette is erg aangerand.

Sy het terugbaklei; sy het die aanvallers met ’n pyp beet gekry en toe later met haar vuiste.

Die vyf aanvallers het haar met ’n panga, geweer en ’n pyp teen haar kop en oor haar lyf geslaan. Sy moes steke kry waar sy haarself teen die pangahoue probeer beskerm het. Bernadette is in die motorhuis vasgemaak, maar hul boerboel, Caesar, het haar gehelp om los te kom.

Ná sy losgekom het, het sy dadelik na haar man se liggaam gegaan en hulp deur middel van die roepradio ontbied. Ander boere en die polisie was binne minute op die toneel. Sy is egter een van talle vroue wat slagoffers plaasaanvalle is. Dié aanvalle het ’n vernietigende impak op die slagoffers – sowel fisies as emosioneel.

Ten spyte van die traumatiese ervaring het Bernadette opgestaan en bo haar omstandighede uitgestyg. Sy woon en boer steeds op dieselfde plaas waar sy en haar man aangeval is. Sy vertel dat dit nog altyd haar en haar man se droom was om te boer. “Ons droom is kortgeknip, maar ek gee nie op nie.” Bernadette is ’n aktivis teen plaasmoorde en -aanvalle, en deel haar ervaring met mense in ’n poging om meer mense bewus te maak van plaasaanvalle in Suid-Afrika. Sy het ook al onderhoude met internasionale nuusagentskappe gevoer.

Bernadette het saam met André van den Berg hul eie bewusmakingsveldtog begin. Hulle ondersteun ook verskeie ander aksies en soortgelyke veldtogte, waarvan Quads4Quads een is.

Sy en haar seuns, Bradly en Wesley, ondersteun Quads4Quads, omdat Quads4Quads bewusmaking van plaasmoorde help skep. Vyf mense wat plaasaanvalle oorleef het, het van 26 tot 29 September 2019 sowat 1 000 kilometer tussen Johannesburg en KwaZulu-Natal op hul vierwielmotorfietse afgelê om bewustheid van plaasmoorde te skep. Bernadette se seuns is ook lede van dié vierwielmotorfietsgroep. Hulle het met hul aankoms in Ballito ’n wit kruis by Cane Cutters geplant om die simboliek van dié reis te verewig.

Bernadette se verhaal is ook ’n bewys van die krag van die Afrikanervrou se deursettingsvermoë. Ondenkbare trauma het haar in die gesig gestaar, maar sy het geweier om moed op te gee. Sy is vasbeslote om ’n verskil in die stryd teen plaasaanvalle te maak.

Dapper vroue soos Bernadette het selfs Lord Kitchener laat besef dat die krag van die Afrikanervolk in ons vroue lê. Dit is die hoofrede waarom vroue in die konsentrasiekampe gevange gehou is. Soos hy gesê het: “The spirit of the Boer women is the greatest factor in this war.”

In Vrouemaand is dit belangrik om die verhale van vroue soos Bernadette Hall te onthou. Hul verhale is ’n herinnering aan die uitdagings wat vroue in die gesig staar, maar dit is ook ‘n herinnering aan die krag en veerkragtigheid van vroue.

Bernadette se verhaal is ’n kragtige een, en dit is een wat vertel moet word. Sy is ’n oorlewende, en sy is ’n inspirasie vir ons almal. Sy is ’n simbool van hoop vir alle vroue in Suid-Afrika. Haar verhaal wys vir ons dat dit moontlik is om te oorleef en te floreer, selfs te midde van geweld en teëspoed.

Dié gees is en sal nog altyd soos ’n onblusbare vuur in die hart van ons sterk Afrikanervroue brand.