Bela

BELA-wet verander kinders

deur Marisha Hermann

Straatname word staatname. Universiteite word rooi geverf. Wit studente word weggewys by universiteite – 90% is nie eers meer ’n voldoende akademiese gemiddeld vir keuring nie. Skoolname verander. Geloftedag word Versoeningsdag want dis “regverdigheid” in aksie; “regverdige” diskriminasie.

En nou sit tannie BELA ook op die voorstoep van skole. Sy drink ’n koppie tee en maak haarself tuis, want dit lyk nie asof sy gou gaan verhuis nie. Sy dreig nie net om name te verander nie, maar ook  kinders. Sy wil die volgende generasie verander. Taal vorm trots en jou plek. Afrikaners het nie meer ’n plek in skole as dié taal weggeneem word nie. Dan kan trots nie meer uitgeleef word nie.  

Liewe ouer, die BELA-wetgewing kan jou kind se toekoms verander.

Die aanvaarding van die BELA-wetgewing sal ’n blatante wyse wees om die taal van die minderheid op skole uit te faseer. Dis dan blatante kultuurdiskriminasie, want kultuur word deur taal oorgedra. Van kleins af word Afrikanerkinders groot met volksverhale uit die Groot Trek. Die Afrikaanse taal is deel van ons DNS.

As die BELA-wetgewing aanvaar word, sal dit beteken dat beheerliggame nie meer gesag sal hê oor die onderrigtaal van die skool nie. Dit sluit ook in dat beheerliggame nie seggenskap sal het oor die leerders wat in die skool toegelaat word nie. Daar word gereken dat ’n dubbelmedium skool slegs vyf jaar sal oorleef voordat die minderheidstaal verdwyn. Die wetgewing bedreig ook tuisonderrig. Hierdie wet is ’n bedreiging vir die Afrikaanse taal.

Volgens navorsing is moedertaalonderrig die beste wyse van leer. Leerders wat in hul moedertaal studeer, presteer beter. Leerders is ook meer geneig om verder te studeer as hulle in hul moedertaal leer. Dit sluit aan by lewenslange leer. Daardeur word die ekonomie en maatskaplike omgewing deur kennis verbeter. Leerders kan ook konsepte makliker in hul tweede of derde taal verduidelik as hulle dit eers in hul moedertaal bemeester het. As leerders gedwing word om in ’n ander taal te leer, word die uitbreiding van die moedertaalvoetspoor ook versmoor.

AfriForum het die Verenigde Nasies se Forum oor Minderheidskwessies in November besoek. Die burgerregteorganisasie het sy stem hier dik gemaak oor diskriminasie teen minderheidsgroepe. Dié VN-forum maak dit duidelik dat state daarvoor verantwoordelik is om die regte van die minderheidsgroepe te beskerm. Die aanvaarding van die BELA-wetgewing sal verhinder dat dit gebeur.

Reeds in artikel 1 van die Forum van Minderheidskwessies se Verklaring oor die regte van persone wat behoort aan nasionale of etniese, godsdienstige of linguistiese minderhede word daar gestipuleer dat die staat daarvoor verantwoordelik is om minderhede se etnisiteit, kultuur, geloof en taal te beskerm. In artikel 2 word dit duidelik gestel dat minderheidsgroepe die reg het om hul geloof, kultuur en taal uit te leef in sowel privaat as openbare ruimtes. Skole vorm uiteraard deel van hierdie openbare ruimtes. Nóg die BELA-wetgewing nie, nóg die 116 nuwe rasgebaseerde wette wat ná 1994 aanvaar is beskerm minderheidsgroepe. Artikel 2.2 dui aan dat minderheidsgroepe die reg het om aan geloofs-, kulturele en sosiale aktiwiteite, die ekonomie en openbare prosesse deel te neem. Met die verwydering van taal word kennis weggeneem, wat ’n groot invloed het op al hierdie aspekte.

In Artikel 4.4 word daar uitgelig dat die regering daarvoor verantwoordelik is om onderrig aan te moedig oor die geskiedenis, tradisies, taal en kultuur van die etniese groep waaraan die persone behoort. Minderheidsgroepe moet die gelyke kans gegun word om te kan leer. Artikel 4 verduidelik verder in punt 5 dat die staat oorweging daaraan moet skenk om ruimtes te skep waarin minderheidsgroepe aan die ekonomie kan deelneem en die land kan help ontwikkel.

“Afrikaners moenie getel word nie, maar geweeg word,” lui die gesegde in die AfriForum-gange. Afrikaners het ’n ryk kultuur en ons is trots op ons taal. Die “r” wat gerol word en die “g” wat grof uitgespreek word. Deur kinders te verander, word die toekoms van die Afrikaner verander. Beskerm die toekoms van die Afrikaner.

Marisha Hermann (Foto: Maroela Media)