mathias-reding-yfXhqAW5X0c-unsplash

AfriForum-veldtog word AfriForum-vel(d)tog by die kantore van die Verenigde Nasies (VN)

deur Veniece Janse van Rensburg

AfriForum se verslag oor raswetgewing in Suid-Afrika is vanjaar aan die VN se Komitee vir die Uitwissing van Rassediskriminasie en die Forum vir Minderheidskwessies voorgelê. Hierdie komitees van die VN het AfriForum as ’n betroubare gesag oor en ’n voorstander van die erkenning en implementering van burgerregte en minderheidsregte in Suid-Afrika geïdentifiseer.

Dit is ’n aksie vir die bevordering van vryheid en gelykheid deur bewusmaking. Bewusmaking dat die Suid-Afrikaanse regering se staaltjie, waar apartheid, diskriminasie, haatspraak en korrupsie op die draaitafel om en om sirkuleer, oneerlik is.

Deur die bewusmaking van Suid-Afrikaanse kwessies op ’n internasionale platform, is ’n tree na die groter vryheidsplan. Die AfriForum-veldtog, word dus ’n vel(d)tog, met die langtermynvooruitsig van ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms in Suid-Afrika vir alle individue, ongeag hul velkleur.

Die regering se ideologie tot politieke benaderings lei tot ’n onvolhoubare en onbereikbare realiteit wat die regering soos soetkoek aan plaaslike en internasionale oningeligtes voorgee en verkoop.

Die regering is verantwoordelik vir die ontstaan van ’n gebrek aan belangstelling in wysbegeerte onder verskeie kultuurgemeenskappe deur die kweking van ’n “gemeenskaplike wit vyand.” Hierdie fiksie van ’n neutrale denkstelsel word bewustelik en onbewustelik op alle lewensgebiede van die land ingebring.

Klem word geplaas op die feit dat die verwydering van die Afrikaner se taal, instellings, kultuur en vryheid, niks vir die regering se vel(d)tog oorlaat nie. ’n Afrikaanse skoolgebou vol gepak met leerders vanuit verskillende taalgemeenskappe is nie ’n regstelling van die Suid-Afrikaanse onderrigstelsel nie. ’n Plaas onteien van ’n boer, is nie ’n regstelling van die Suid-Afrikaanse landboutekort nie. Die versuim om wit mense aan te stel en die implementering van swart ekonomiese bemagtiging, is nie ’n regstelling van die ekonomiese kwessies in Suid-Afrika nie. Regstellende aksie is nie ’n regstelling nie en onreg in die naam van regverdiging maak iets nie regverdig nie. Die dekmantel wat die regering skep is ’n valse en onvolhoubare sentralistiese magstelsel, met die minderheidsgroep as gemeenskaplike vyand.

AfriForum verwyder die regering se dekmantel deur bewusmaking van dié verslag. Hierdeur sal plaaslike en minderheidstemme gehoor word, minderheidsregte beskerming geniet en vryheid op die lang termyn gerealiseer word.

Die ANC-regering se raswette is soos ’n soetkoekiestalletjie by die boeremark waar die regering met ’n valse dekmantel bemark dat die soetkoekie dieselfde prys sal kos vir elke ras, maar dit dan duurder maak vir sekere rasse. Elke rasgroep betaal ’n ander prys en die minderheidsgroepe betaal die hoogste prys. Hierom moet elke kultuurgemeenskap die juk van hulle toekoms vat, tot die bevordering van hulle eie volk. Dit is ’n vel(d)tog en nie ’n oorlog nie.

AfriForum, by die kantore van die VN, voorsien Suid-Afrika van hoop.

Federalisme, is waarheen die wiel, met elke aksie ’n speek, op pad is om die Afrikaner se vryheid te skep. Die afwenteling van mag tot op gemeenskapsvlak skep die geleentheid om deur werklike gelykheid ’n gesonde ekonomie te skep.

Joost Strydom, uitvoerende hoof van die Orania Beweging het eenmaal aangehaal: “President Brandt het gesê alles sal regkom, elkeen moet net sy deel doen. President Paul Kruger het gesê neem uit die verlede wat goed en skoon is, en bou jou ideale daarop vir ’n beter toekoms. Vader Kestell het gesê ’n Volk red homself.”

Veniece Janse van Rensburg
(Foto: Maroela Media)