AfriForum Jeug se Kovsies-tak staan verwydering van Steyn-standbeeld teen

AfriForum Jeug se Kovsies-tak en AfriForum het gister ’n voorlegging ingedien wat die bedekking en verwydering van die M.T. Steyn-standbeeld op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat (UV) teenstaan. Dít volg nadat die UV-bestuur belanghebbendes slegs vyf dae gegee het om insae te lewer met betrekking tot die verwydering van die standbeeld van dié oudpresident van die Oranje-Vrystaat. Die  voorgestelde plan om die standbeeld te verwyder is deel van die UV-studenteraad se transformasiebeleid.

“Ons glo in kulturele vryheid, wat wedersydse erkenning en respek vir mekaar se erfenis, taal en kultuur behels. AfriForum Jeug wil hê daar moet ’n kultuur van inklusiwiteit op kampus heers, maar as een groep se erfenis nie welkom is nie, hoe moet alle studente welkom voel?” sê Chantelle du Preez, voorsitter van AfriForum Jeug se Kovsies-tak.

AfriForum Jeug en AfriForum het veral hul ongelukkigheid uitgespreek met die proses om die standbeeld te verwyder. “Die kampusbestuur gebruik die sogenaamde proses as rookskerm om belanghebbendes te paai, terwyl hulle reeds besluit het om van die standbeeld ontslae te raak,” sê Ohann Fourie, AfriForum Jeug se nasionale koördineerder vir kampusstrukture.

Du Preez sê verder dat AfriForum Jeug beplan om ’n veldtog te loods om die verwydering van die standbeeld teen te staan. “Ons wil studente inlig oor wie M.T. Steyn werklik was. Weens Asive Dlanjwa, president van die studenteraad, se uitlatings, is studente onder die indruk dat M.T. Steyn apartheid begin het, wat nie die geval is nie – M.T. Steyn is reeds in 1916 oorlede, ’n geruime tyd voor apartheid ingestel is.”

M.T. Steyn se standbeeld is nie net belangrik vir die Afrikanerkultuur nie, maar ook vir die Suid Afrikaanse erfenis in sy geheel. “Ons gaan dus alle belanghebbendes betrek om seker te maak dat ons erfenis ook vir komende generasies beskerm word,” sluit Du Preez af.