Geanker in Suid-Afrikaanse grond
Hierdie skrywe vorm deel van AfriForum Jeug se 2023 meningstukkompetisie. Dit is dus nie deur ʼn verteenwoordiger van AfriForum geskryf nie en die mening van die skrywer weerspieël nie noodwendig AfriForum se standpunte nie.
My voorvaders se wortels lê in grond van die plaas Nooitgedacht (nou beter bekend as Kromkuil), wat twee-en-twintig kilometer suidoos van Hoopstad langs die Vetrivier geleë is. Om werklik te staaf hoekom ek in Suid-Afrika wil bly, het ek diep gaan delf in my familiegeskiedenis. Dit handel oor ’n familie wat die tradisie dra dat hulle vir meer as ’n anderhalfeeu lank op die oewers van die Vetrivier geboer het
In die latere 1800’s het die familieplaas, Rietfontein, langs die Vetrivier ontstaan. Hier het die boer – Rooi Joseph du Plessis, dié “vader” van die Afrikanerbeesras in Suid-Afrika – sy merk gelaat toe hy die eerste Afrikanerbees in Suid-Afrika geteel het.
Die Afrikanerbees is oorspronklik ’n inheemse beesras, wat reeds met die koms van Jan van Riebeeck en die eerste Europeërs in die Kaap, bestaan het. Ons kan dus bevestig dat die Afrikanerbees ’n geïntegreerde deel van die boeregemeenskap in die voormalige Kaapkolonie geword het. Tydens die Groot Trek (1836–1854) het die Afrikanerbees as trekos na die binneland gemigreer.
Rooi Joseph, met sy inheemse kennis en aanvoeling vir die uiterlike voorkoms, geslag en optrede van die Afrikanerbees, het bygedra tot die suiwering en standaardisering van die beesras. Dié selfstandige Afrikanerbeesras het ’n sentrale posisie in die daaglikse lewe van die Afrikaner ingeneem. Hoe interessant is dit dat die Afrikanerbees as ’n ras deel van die Afrikaner se kultuurmilieu gevorm het? Ek kan bevestig dat die Afrikanerbees bygedra het tot ’n eiesoortige Afrikanerkultuur en Afrikaneridentiteit.
In 1919 is Rooi Joseph se kleinseun (my oupa) – Jozeph Albertus du Plessis, die derde afstammeling met die besonderse aanvoeling vir ’n Afrikanerbees – gebore. Jozeph en sy pa, J.H. du Plessis, het op die tweede familieplaas, Nooitgedacht, geboer. Jozeph het in 1945 die plaas, Winterhoek, langs die Vetrivier bekom, waar hy vir vier en twintig jaar lank in Rooi Joseph se voetspore gevolg het. Op dié plaas het koeie gekalf en die kalwers het maklik twintig jaar oud geword. Jozeph het geglo dat ’n bees binne die standaard van volmaaktheid soos deur die Afrikanerbeestelersgenootskap neergelê word, geteel moet word. Jozeph was veral bekend vir sy geel Afrikanerbeeste wat hy suiwer aangeteel het. Hy het ’n menigte trofees en kampioenskappe op die jaarlikse Randse Paastentoonstelling en ander geleenthede met dié beeste gewen.
Ek besef dat ek soveel klem op die Vetrivier plaas. Die bou van die Oppermansdrifdam (in die laat 1960’s) het sy water tagtig riviermyle in die Vaalrivier en vyf-en-veertig riviermyle in die Vetrivier laat opstoot. Dié gebeurtenis was die oorsaak van die tweede “Groot Trek” van honderde boere vanaf hulle familieplase na ander dorpe of plase. Die Du Plessis-familie moes duisende morge grond prysgee om plek te maak vir dié nuwe dam.
In 1969 vertrek Jozeph na die plaas, Theronshoop, veertien myl verder – wéér langs die Vetrivier! Sedert die teling van die Afrikanerbees wou die Du Plessis-familie nie die vrugbare grond (Afrikanerbeesaarde) verlaat nie. Hulle het aanhou streef om die Afrikanerbeesras langs die Vetrivier uit te bou. Hierdie boere het nóóit tou opgegooi nie!
Name is ook ’n groot deel van die Du Plessis-familie se kultuurerfenis. Dr. Jean Prieur du Plessis – die eerste Du Plessis wat vanaf Frankryk na Suid-Afrika geëmigreer het en in Kaapstad voet aan wal gesit het – is die stamvader van die Du Plessis-familie. My pa, Jean Pierre Richleu Odendaal du Plessis, is na die stamvader vernoem. Alhoewel my pa nie aanhou boer het nie en destyds die plaas, Nooitgedacht, wettiglik geërf het, dra hy ’n naam wat deel van ons familiegeskiedenis vorm.
Uit ’n boerefamilie dra ek die kultuur met trots op my skouers. Ons ploeg die lande en kweek in die grond. Ons is geskape om die land waarin ons woon uit te brei – aansuiwer. Ek is trots op my familiegeskiedenis en my geboorteland. Hier is ek geplant om aan te hou veg en bou vir ’n nasie wat nét nooit sal opgee nie. Hier sal ek bly en aanhou streef na ’n groeiende Afrikanerkultuur in Suid-Afrika.
Lizandi du Plessis (19)