Ons erfenis, ons toekoms
Tracy-Lee Crozier se meningstuk was een van die toptien skrywes van AfriForum Jeug se meningstukkompetisie, Tel op jou pen en wen!
“Afrikanererfenis … Onthou jy nog?”
Dít is die woorde wat oor ons nageslagte se lippe sal kom as ons nie nóú verandering bring nie.
Niemand se erfenis is belangriker as iemand anders s’n nie. Hoekom word Afrikanerstandbeelde verwyder en verwaarloos? Hoekom sê niemand iets nie? Hoekom bly mense wat die seerste kry die stilste?
Waar is ons trots?
Hoe regverdig ons dit dat ander monumente gebou word, maar ons eie monumente word afgeskeep? As jy nie sien dat dit verkeerd is nie, dan is jy net so skuldig soos diegene wat ons monumente en ons trots beskadig.
Kan julle die groot bohaai onthou toe die bykans onsigbare haas in die oor van oud president Nelson Mandela se standbeeld ontdek is?
Die haas was skaars waarneembaar. Maar die telefone het onophoudelik gelui. Histeriese stemme wat hiet en gebied dat die haas onmiddellik verwyder word.
Hoekom loop sake nie klopdisselboom as ons daarvoor vra nie?
Ons is die mense wat petisies onderteken en protesaksies ondersteun. Ons stuur skakels na ons vriende en familie sodat hulle ook op sosiale media kan inteken om te verhoed dat nóg standbeelde verwyder word.
Duisende mense ondersteun hierdie aksies in die hoop om verandering te bring; in die hoop om eendag weer in jou motor te kan klim en te gaan kyk na iets wat ons gemeenskap se verlede uitbeeld.
Iets wat lyk soos die dag waarop dit onthul is . Die dag toe mens en steen mekaar aangeraak het.
Waar is die telefoonoproepe nou? Waar is die geskarrel vir regstellings? Definitief nie hier nie.
Het jy al ooit daaraan gedink dat dinge dalk verder kan gaan?
Ons standbeelde word verwyder. Is ander aspekte van ons erfenis dan nie ook in gevaar nie?
Hoe leef ons in ‘n wêreld waar almal nie gelyk is nie? Dag na dag moet ons hoor dat ons leef in die tyd van die reënboog nasie. Ons is almal glo “gelyk”…
Hoekom word ander standbeelde nie geplunder as ons almal gelyk is nie?
‘n Reënboog het verskillende kleure wat beteken dat ons wel een kan wees, maar tussen mekaar is ons nog steeds verskillend.
Mense word nog steeds stief behandel. Dit is die mensdom waarin ons leef. Mense verander. Ons kan een dag hande vat en mekaar ondersteun. Die volgende dag kan ons mekaar nie verdra nie.
Mense mag anders wees. Ons is nie gemaak om dieselfde te wees nie, maar kan ons erfenis nie oor dieselfde kam geskeer word nie?
Stel jou voor… ‘n Land waar ons almal se erfenis ewe belangrik geag word. Hartroerend.
In jou geestesoog – jy sit op jou riempiesbank. Gemmerbier in die een hand en ‘n dik sny tuisgemaakte boerbrood in die ander. Botter wat tuis gekarring is, loop teen jou wang af terwyl die korsie in jou mond kraak soos ‘n hard gebraaide kaiing. Vir nagereg, dik gevlegte koeksisters. Stroop wat teen jou duim en wysvinger af drup. Die beeldradio blêr van monumente wat herstel word. Hemel op aarde.
Liewe Afrikaner, hoe plant ons die saadjie van verandering? Waar verleen ons die regte hulp? Wie is aan ons kant?
Moenie wag vir die perfekte tyd nie. Hoe langer jy wag, hoe langer vertraag jy verandering. Verander jou visie van “eendag” na “dag een”.
Ons is nie die enigste in ons dorpe of in ons woonbuurte wat voel dat iets drasties moet verander nie. Spreek die woord uit. Sê hoe jy voel. Staan op, trek aan en gaan red daardie standbeeld wat vir almal onsigbaar geword het.
Tracy-Lee Crozier is tans ’n onderwysstudent in haar tweede jaar by Unisa. Sy hou al vir twee jaar skool, en is op die oomblik by Lydenburg Leersentrum. Sy woon die afgelope 16 jaar in die plattelandse dorpie Lydenburg. In 2016 was sy die internasionale wenner van die Afrikaans-Ekspo in die kategorie: Verhalende opstel. In haar vrye tyd lees sy graag boeke. Afrikaans is haar hartklop en vloei deur haar are. Hokkie is haar passie en sy is ’n diereliefhebber.
Instagram-handvatsel: tracyleecrozier