Die Afrikaner het dán nie meer ’n toekoms of erfenis nie
Marisha Hermann se meningstuk was een van die toptien skrywes van AfriForum Jeug se meningstukkompetisie, Tel op jou pen en wen!
Voor die stryd met die Zoeloes is daar in die middel van die laer gebid. So was dit vir sewe dae. Daar is ’n gelofte afgelê voor die almagtige God. Hier staan ons voor die almagtige God van hemel en aarde. Om ’n gelofte aan Hom te doen. Toe die slag. Die rivier was vol bloed en die oorwinning is gegee. ’n Huis is tot Sy eer gebou. Elke jaar hou ons Geloftedag, reg oor die land, soos hulle ook gedoen het. In 1899 het die Tweede Vryheidsoorlog begin en die stryd was hard en wreed, maar die geloof van die Afrikaner het sentraal gestaan. Ná die oorlog was die groot opstaan, en die kerk was betrokke en het selfs gehelp om skole te stig. Afrikaners veg vir hulle toekoms in 1914, die Rebellie. Groot nood ná die tyd. Die begin van die Helpmekaarbeweging. Almal het gehelp om mekaar te help, ook die kerk. In 1930 tref die Groot Depressie die volk. Armoede vir meer as die helfte van Afrikaners. Met die kerk sentraal is die Reddingsdaadbond gestig. Ds. Kestell sê ’n volk red homself. Geloof was sentraal in die harte en die lewens van die Afrikaners. Die kerk was betrokke by al die bewegings en die dade van opstaan. ’n Erfenis is in geloof gebou. Vandag is dit klaarblyklik nie die kerk se taak nie.
2022. Ons het sterk gestaan deur Covid-19. Die kerk was lank toe en baie gebruik nou aanlyn kerk as verskoning om nie meer kerk by te woon nie. Ons sit gemaklik in ons nagklere op die sitkamerbank en luister na die predikant terwyl daar op Instagram gespeel word. Ons trek nie meer netjies aan en eer die Sondag soos ons voorouers gedoen het nie. Die kerk het haar krag verloor.
In 2022 ervaar ek die harte van die Afrikaners. Steeds hardwerkend soos ons geskiedenis ook vertel. Ons werk aan ons erfenis. Bereid om organisasies te stig vir die geslagte vorentoe. Afrikaners is besig om te bou. Om vir hulle kinders se kinders te bou. Ons sal self werk skep, krag opwek, films maak, boeke skryf, universiteite bou, gemeenskappe bou. Die Gelofte: ’n Musiekblyspel is só suksesvol dat dit vir die derde keer opgevoer word. Ons plant duisende bome reg oor die land. Ons maak ’n berg vol wit kruise vir ons boere wat vermoor word. Ons hou ’n swart Maandag en op my skoolskoene het ek die hutsmerk geskryf. Daarmee het ek weke lank geloop met trots. Ons hou konferensies en Afrikaanse konserte. Ons skep ons eie uitgewery en maak staat op Afrikaanse mediahuise. Sonder die kerk?
Afrikaners se geloof is steeds vir hulle belangrik. Meer as 90% van Afrikaners beskryf hulself as Christelik, maar min gaan gereeld kerk toe. Ek sien selfs die kerke swyg. Hulle terrein is iets anders, maar word kleiner. Afrikaners se harte is warm en het ’n behoefte aan geborgenheid, maar om een of ander rede vind hulle dit nie in die kerk nie.
Die gemeente moet weer gemeenskap verstaan en die gemeenskap weer gemeente. Sonder gemeente besef ons dalk eendag ons is nie meer gemeenskap nie. Sonder gemeenskap is daar dalk nie meer gemeente nie. Sal ons bereid wees om weer ’n kerk te bou tot die eer van God? Afrikanerskap en ons Christenskap kan inderdaad nie van mekaar geskei word nie. Ons identiteit is ook ’n geskenk van Hom. Ons is deel van Sy skepping wat Hom met ander volke en tale voor Sy troon sal eer.
Die vraag is dan hoe lank sal Afrikaners kan bou as hulle geloof nie saam bou nie. Sal ons die krag kan hê om te bou sonder ons geloof, of het ons dán nie meer ’n toekoms nie?. Sal ons steeds ons erfenis kan behou?
Marisha Hermann is ’n tweedejaarstudent by Akademia. Sy studeer tans BA Kommunikasie en Joernalistiek, maar geniet dit om kursusse in biblioterapie asook kunsterapie te doen. Sy het ’n liefde vir sang, kuns, skryf en mense. Verder is sy ’n passievolle persoon wat altyd tyd maak vir ’n geselsie.
Instagram-handvatsel: marisha_hermann