Standbeelde gee erkenning aan die verlede – sowel dié wat opgerig word as dié wat afgebreek word
Louis Boshoff se meningstuk was een van die toptien skrywes van AfriForum Jeug se meningstukkompetisie, Tel op jou pen en wen!
Die aanslag teen Afrikanererfenis woed voort. Die strategie daarvan is welbekend: Breek ’n volk se standbeelde af, dan takel jy sy geskiedenis af; dan knou jy sy identiteit. Of, anders gestel: Breek ou standbeelde af en rig nuwes op, dan verdraai jy die geskiedenis en gee aan ’n volk ’n nuwe, skuldbelaaide identiteit. Of selfs ánders gestel: ’n Volk wat sy helde onthou, word moeiliker oorheers, verkleineer, of doodgemaak (ek bedoel doodmaak natuurlik nie letterlik nie – dis net beeldspraak). Daarenteen het ’n volk wat sy standbeelde uitbeitel ’n ruggraat van graniet; en ’n volk wat sy standbeelde sien, ’n stip toekomsblik sonder oogknip.
Daar is ’n vreemde soort lafhartigheid daaraan om ’n standbeeld af te breek. Dis die vrees dat jou eie nalatenskap nie merkwaardig sal wees nie, en dan ’n poging om ’n ander se nalatenskap te probeer uitwis. Dis dieselfde om iemand te slaan wat nie self kan terugklap nie; om op iemand te skree wat self stom is of om iemand te spoeg wie se keel kurkdroog is. En ons is kéélvoldaarvoor.
Tog is daar ’n skreiende ironie aan die afbreek van standbeelde. Iets soortgelyks, maar ook omgekeerd, aan wat Jesus in Lukas 11:47–48 aan die Fariseërs uitwys (2020-vertaling):
Wee julle, want julle bou grafmonumente vir die profete, maar julle voorvaders het hulle vermoor. Julle is dus getuies wat die dade van julle voorvaders goedkeur, want hulle het die profete vermoor, en julle bou hulle grafmonumente.
Die Fariseërs wou hul eie beeld poets deur vir die profete grafte te bou, maar erken toe daarmee juis die teenoorgestelde, nl. die vuilheid van hul herkoms. Vandag se standbeeldslopers toon die teëbeeld daarvan: Hulle sê dat Afrikanerstandbeelde onbelangrik is en verwyder moet word, maar erken daarmee juis die teenoorgestelde, naamlik die belang van daardie Afrikaners se dade. Want Afrikanergeskiedenis ís belangrik vir die ANC en EFF – belangrik genoeg dat hulle dit wil uitwis.
Die jongste voorbeeld hiervan is die EFF se “dringende mosie” om die borsbeeld van W.E. Bok uit die Boksburg- munisipale kantoor te laat verwyder. Ek, en sekerlik die meeste ander jong Afrikaners, het nie voorheen van W.E. Bok geweet nie. Ek het ook nie geweet dat hy deur sowel die Franse as Portugese regerings met ridderskap vereer is nie. Danksy die EFF se bohaai het ek egter nou bewus geword van nóg ’n besonderse man in ons land se geskiedenis – die een wat hulle wou hê vergeet moes word. (Bygesê, die FAK se flink optrede het natuurlik ook ʼn rol gespeel om my daarvan bewus te maak.)
Wat leer ons uit hierdie standbeeldparadoks? Dat ons die EFF maar moet laat begaan om ons standbeelde te verwyder? Hoegenaamd nie! Maar mag die aanslae op ons voorgangers se standbeelde ons tog herinner aan die grootsheid van hul dade, want hul gedagtenis sal eers afgebreek moet word voordat die res van die land deur die EFF afgebreek kan word.
Louis Boshoff is op 26 Augustus 1999 gebore en het op die plaas Placidus, net buite Nylstroom in die Waterberge, grootgeword. Hy voltooi sy laerskoolloopbaan aan die Waterbergskool vir CVO en sy hoërskoolloopbaan as koshuisbewoner van die CVO-skool Potgietersrus. In 2018 begin hy farmasie studeer aan die Noordwes-Universiteit, voltooi die graad in 2021 en begin dadelik met ’n meestersgraad in Farmasiepraktyk waarmee hy tans nog besig is. Gedurende sy universiteitsjare is hy ’n inwoner van Veritas-manskoshuis, lidmaat van die Gereformeerde Kerk Cachet, passievolle debatspreker en toegewyde lid van die rotsklimklub. Hy bring graag sy vrye tyd deur op staptoere en kampe, of met sy neus in boeke oor godsdiens, politiek en ander omstrede onderwerpe.
Instagram-handvatsel: l.o.u.i.s.boshoff