Cara
| DeurAfriForum

My vraag is, “Wat het van regverdigheid geword?”

Cara Tomlinson se meningstuk was een van die toptien skrywes van AfriForum Jeug se meningstukkompetisie, Tel op jou pen en wen!

Ek is in 2001 gebore, dus onder die bewind van die ANC-regering. Die regerende party sê dat hulle staan vir demokrasie, gelyke regte, rassegelykheid, vrede, die utopie van ’n reënboognasie en voorspoed vir alle Suid-Afrikaners. Tydens die oorname van die ANC in 1994 is beloof dat die oorname ’n einde sal bring aan rasseklassifikasies en rassisme. Dit is egter geensins op enige vlak van die samelewing sigbaar nie. Rasmalheid het egter net vererger.

Ek lees ’n berig op Maroela Media waar nog ’n boer en sy vrou op hul plaas aangeval is. Die boer is vermoor en sy vrou is gemartel en in die veld gelaat. Net ’n paar weke voor hierdie plaasaanval is daar in die hof beslis dat die lied “Kill the boer” wat deur Malema en die EFF gesing word, onskadelik is.

Die inname van eerstejaarstudente by universiteitskoshuise vind nie meer op meriete plaas nie, maar eerder op grond van velkleur. Koshuise moet 70% swart studente inneem (ongeag of hulle die beste kandidate is) en die oorblywende 30% is vir wit studente wat op grond van hul prestasie keuring kry.

Afrikaanse skole in Suid-Afrika word geforseer om 50% swart leerders in te neem.

Die apartheidskaart word gereeld gespeel indien ’n argument ontstaan. Daar word steeds na wit mense as bevoordeeldes verwys, hoewel hierdie mense se huise en erwe soos tronke omhein is in die hoop om hulself te beveilig.

Daarom dan my vraag, waarheen is die regverdigheid? Of wat is die regering se definisie van regverdigheid?

As jong Afrikanermeisie in Suid-Afrika moet ek steeds “betaal” aan die sogenoemde apartheidskuld, al het ek nog nooit voordeel daaruit getrek nie. Inteendeel, ek beleef slegs die negatiewe impak van die ANC se onregverdige regulasies in my lewe.

My vel is te wit vir studiebeurse

My vel is te wit vir universiteitskoshuise.

My vel is te wit vir sekere studierigtings op universiteit.

My vel is te wit vir werk in Suid-Afrika.

Ek word aanhoudend deur boeliegedrag gedwing om ’n pad vir myself in hierdie onregverdige samelewing uit te kap. Daar word van my verwag om aan te pas wanneer die volgende onregverdige stappe geïmplementeer word en ek moet maar net dankbaar wees dat ek ten minste nog nie totaal verarm het nie.

Onregverdigheid wek baie verskillende emosies by my op: van woede, frustrasie, moedeloosheid tot magteloosheid. ’n Goeie huisvriend van my ouers het altyd heel profeties opgemerk dat ons eers ons verlies moet besef voor ons iets daaraan sal doen. En glo my, ons besef dit nou! Dis amper asof ons die bekende vyf stappe van rou moet deurwerk. Of laat ek eerder sê die eerste vier stappe: ontkenning, woede, onderhandeling, depressie … maar NIE aanvaarding nie! Dis nie deel van ons mondering nie! Ja, ons is gewond op alle denkbare terreine, maar nee, ons is nie oorwonne nie!

Ons het nodig om vernuwend te dink, nie aanhoudend die simptome van die rassesweer te dokter nie, maar eerder die wortel van die kwaad uit te wis en oor te begin. Ek en my generasie is toegerus vir die tyd waarin ons leef. Ons het grootgeword in hierdie onregverdige samelewing. Ons is in hierdie tydsone geplaas met ’n roeping. Daarom raak ek opgewonde oor ’n nuwe plan wat eintlik al oud is. In my eie woorde: laer trek!

Ons is min, maar as ons konsentreer op ’n bepaalde plek kan ons juis dáár die meerderheid wees. In so ’n gebied sal ons vry wees om ons eie wette te kan maak, ons kan regverdigheid definieer, toepas en uitleef en ons sal sonder die rassismesiekte kan bou. Dit help nie meer om met die emmer rond te hardloop om die water by al die lekplekke in die plafon te probeer opvang nie. Dis vermorste energie. Dis tyd om ’n nuwe huis te bou.

Cara Tomlinson woon saam met haar gesin op ’n plaas net buite Orania. Sy is tans ’n derdejaarstudent in BA Kommunikasie aan die NWU.

Vir haar lê haar taal Afrikaans en haar Afrikanerkultuur haar baie na aan die hart en sy glo dat haar geloof in God Drie-enig die fondament is waarop sy haar lewe bou.

Instagram-handvatsel: Cara_tomlinson_