JEUG-petisiebanier_Sangoma

Meningstuk: Beweerde sangoma-voorval op Potch-kampus skend moontlik medestudente se regte    

Deur Zel-Marí Gelderblom

Die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) het in Mei vanjaar in die kollig beland toe ’n sangoma-ritueel na bewering sonder vooraf toestemming in ’n dameskoshuis uitgevoer is. Die voorval het ’n storm ontketen, veral onder studente wat veiligheid, respek vir gemeenskapsgrense en die reg op rus bevraagteken het.

AfriForum Jeug het hierdie voorval gesien as ’n simptoom van ’n groter uitdaging: die afbreek van orde en verantwoordbaarheid op kampusse onder die vaandel van “kulturele inklusiwiteit”. Hoewel AfriForum Jeug glo in godsdiensvryheid en kulturele uitdrukking soos deur die Grondwet beskerm, glo hulle ook dat sodanige vryheid nooit die vryhede van ander mag skend nie.

Dié beweerde ritueel het die regte van medestudente in gedrang gebring. Verskeie inwoners is getraumatiseerd deur die bloedstollende geskree wat deur die gange van die Eikenhof-koshuis weerklink het. Dít laat die vraag ontstaan: Hoe ver mag individue gaan onder die vaandel van godsdiensvryheid?

Universiteite is nie plekke vir chaos of onbeplande spirituele aktiwiteite nie. Dit is plekke van akademiese integriteit, dissipline en respek vir almal se vryhede. AfriForum Jeug betreur dat die universiteit se amptelike reaksie op hierdie voorval traag en vaag was, en vir die studente gelyk het asof die universiteit onverskillig staan teenoor die studente.

AfriForum Jeug het dus die volgende gevra:

  1. Duidelike riglyne: Universiteite moet ’n ondubbelsinnige beleid formuleer oor hoe en waar kulturele of godsdienstige rituele uitgevoer mag word, sonder om ander se ruimtes of regte te skend.
  2. Gelykheid voor beleid: Geen kultuur, geloof of ideologie mag voorkeur bo ’n ander geniet in praktyke wat ander affekteer nie.
  3. Veilige kampusse: Studente het die reg op ’n veilige leer- en leefomgewing. Die uitvoering van spirituele rituele in privaat woonruimtes sonder vooraf kennisgewing of toestemming ondermyn hierdie reg.

AfriForum Jeug bly daartoe verbind om die regte van studente te beskerm. Hulle sal nie toekyk hoe valse vorme van “inklusiwiteit” misbruik word om grense te oortree en instellings van hoër onderwys in ruimtes van verwarring te verander nie.

AfriForum Jeug ondersteun ’n samelewing waar individue van uiteenlopende agtergronde, kulture en wêreldbeskouings in ’n klimaat van wedersydse respek en begrip saam bestaan. Hulle glo dat elke gemeenskap die reg het om hul unieke identiteit, taal en tradisies te beskerm en uit te leef, sonder om ander se regte in die proses te skaad. Hulle streef daarna om ’n ruimte te skep waar gemeenskappe hul volle potensiaal kan bereik, maar is ook ten gunste van orde.

Zel-Marí Gelderblom is die koördineerder van inhoud en mediaverhoudinge by AfriForum en het ’n meestersgraad (cum laude) in genderpolitiek aan die Nelson Mandela Universiteit behaal. Sy is ook die aanbieder van AfriForum in fokus.