Toekomsskeppers Wes-Kaap
| DeurAfriForum

Toekomsskeppers: Wes-Kaapse hoërskool leiers gereed om ’n verskil te maak

AfriForum Jeug het in samewerking met AfriForum se afdeling vir Jeugleierskap en Ontwikkeling die eerste Toekomsskeppers-geleentheid in die Wes-Kaap aangebied. Hierdie geleentheid was daarop gemik om die nuutverkose graad 11-leiers toe te rus met spesifieke vaardighede en aan te moedig vir die taak wat voor hulle lê.

Nege skole van reg oor die Wes-Kaap het deelgeneem, naamlik: Hoërskool Stellenberg, Hoërskool Langenhoven, Hoërskool D.F. Malan, Hoërskool Stellenbosch, Hoërskool Durbanville, Hoërskool Jan van Riebeeck, Hoërskool Porterville, Hoërskool Parel Vallei en HTS Drostdy.

Hui-Mari Meyer, van die WIRED Flip the Switch-groep, het met die leerders gepraat oor verskillende temperamentsoorte en hoe dit elke persoon uniek maak.

Dr. Gillian Arendse, beroemde eksperimentele kernfisikus, het die tweede sessie aangebied om vyf praktiese elemente van leierskap te bespreek. Dit het onder meer behels hoe ’n leier moet lei deur ’n voorbeeld te wees, visie moet hê en hoe belangrik dit is om ander te inspireer.

Volgens Tania Scheepers, projekassistent vir Onderwys by AfriForum, is dit belangrik dat kinders van jongs af leer dat almal unieke talente het wat hulle kan gebruik om waarde tot hul gemeenskap te voeg. “Leierskap begin by selfkennis en die bereidwilligheid om ander te dien. Ons is trots op hierdie jong leiers en sien uit daarna om te sien hoe hulle ontwikkel en hulle te ondersteun op hul leierskapsreis.”  

“Die tema van die dag was Watter tipe leier is jy, en dit het die kern van leierskap ondersoek en die belangrikheid daarvan beklemtoon. Om jou unieke leierskapstyl te verstaan en te gebruik om ’n positiewe verskil te maak is belangrik en ons by AfriForum Jeug is baie opgewonde om hierdie suksesvolle geleentheid weer volgende jaar aan te bied en voort te gaan om jong leiers te bemagtig vir die toekoms,” sê Yvonne Gerber, AfriForum Jeug se jeugbeampte vir ontwikkeling.