500 jaar van hervorming

 

Martin Luther (of Luder, later Ludher), een van die grootste vaders van die Protestantse Hervorming, is op 10 November 1483 in Eisleben, Sakse gebore.

Hoewel hy aanvanklik in die regte wou studeer, het dié dissipline hom gou teleurgestel en het hy filosofie begin studeer. Dit is in hierdie tyd dat die “wonderwerk” gebeur het wat Luther oortuig het om eerder in die teologie te studeer. Een dag op pad na die Universiteit het ’n donderstorm losgebars en ’n weerligstraal Luther en sy perd byna getref. In dié oomblik van angs het hy na Sint Anna uitgeroep en beloof om ’n monnik te word. Luther het sy belofte gestand gedoen, sy regsboeke verkoop en by die monnike van die Sint Augustinus-klooster aangesluit.

Dit is tydens sy verbintenis met dié orde dat Luther se teologiese sienswyse begin verander het. Die Augustynse leefwyse het hom verplig om te vas, ure lank te bid, pelgrimstogte te neem en gereeld sy sondes te bely. Sy mentor Johann von Staupitz het Luther se oortuigings weggelei van die deurgaanse fokus op sonde en meer op Jesus se meriete begin wys.

In 1516 het die Rooms-Katolieke Kerk in Rome begin om die aflaatstelsel in Duitsland te “bemark” om fondse in te samel om die Pieterskerk in Rome te herbou. Volgens dié stelsel kan mense geld betaal om sondes los te koop – dus is jou straf verminder as jy bereid was om daarvoor te betaal. Dit was die laaste strooi en die koeël is deur die kerk.

Op 31 Oktober 1517 het Luther aan sy biskop geskryf om teen die aflaatstelsel te appelleer. Hy het sy beroemde 95 stellings by dié brief ingesluit. Volgens tradisie het Luther ook dié 95 stellings op dieselfde dag teen die deur van die Wittenbergse kasteelkerk vasgespyker, maar dit word vandag as onwaarskynlik beskou. Hoe dit ook al sy, het dié 95 stellings baie vinnig baie ver oor Europa versprei – veral nadat ’n vriend van Luther dit in Januarie 1518 uit die Latyn in Duits vertaal het.

Die eerste skote is in Oktober 1518 gevuur, toe Luther die pouslike gesant Kardinaal Cajetan in Augsburg ontmoet het. Luther het geweier om sy stellings terug te trek en die ontmoeting was ’n totale mislukking. Ná ’n paar ander probeerslae en ’n waarskuwing van die Pous self in 1520 dat hy Luther gaan ekskommunikeer, het Luther steeds geweier, en in 1521 het die Pous voet by stuk gehou, Luther geëkskommunikeer en sy 95 stellings verban. Dit was die plig van Keiser Karel V van die Heilige Romeinse Ryk om dié verbanning te polisieer. Hy het Luther gedaag om in April 1521 voor die Ryksdag van Worms te verskyn. Hier is hy weer eens gevra om sy 95 stellings terug te trek, maar ná hy geweier het, is hy skuldig bevind en as misdadiger verklaar. Luther het egter immuniteit gehad om na die Ryksdag te kom en weer na Wittenberg terug te keer, en hy is nie in hegtenis geneem nie. Op pad terug is hy egter deur sy beskermheer, Prins Frederick III, Keurvors van Sakse, ontvoer en na die Wartburg Kasteel geneem waar hy in vrede met sy vertaling van die Nuwe Testament uit Grieks kon voortgaan. Die vertaling is in 1522 gepubliseer.

Vanuit Wartburg en later Wittenberg het Luther sy nuwe kerk begin bou. Niemand kon die Protestantse Hervorming meer stuit nie.

Luther is egter nie net as ’n groot Protestantse Hervormer bekend nie, maar ook as koraalskrywer. Een van die korale wat hy getoonset het, ’n Vaste burg is onse God, is later die “oorlogslied van Protestantisme” genoem.

Toets jou kennis oor Martin Luther deur die volgende AfriSpel te speel: https://www.afrispel.co.za/quizzes/martin-luther-en-die-hervorming/49