AfriForum Jeug is ’n niepolitieke burgerregteorganisasie
WIE IS ONS?
MISSIE EN VISIE
AfriForum Jeug is amptelik in Maart 2008 in die lewe geroep. Sedertdien is AfriForum Jeug as ’n geloofwaardige jeugorganisasie gevestig wat sigself vir die belange van jong Afrikaners beywer. Van hier kan ons net verbeter en verder bou!
AfriForum Jeug is die amptelike jeugafdeling van AfriForum, die burgerregte-inisiatief wat deel van die Solidariteit Beweging vorm. AfriForum Jeug berus op Christelike beginsels en ons doel is om selfstandigheid onder jong Afrikaners te bevorder en die realiteite in Suid-Afrika te beïnvloed deur veldtogte aan te pak en aktief vir jong mense se burgerregte standpunt in te neem. AfriForum Jeug se wese behels onder meer die verkryging van kulturele vryheid en die uitbou van die Christelike demokratiese ideeraamwerk.
Missie
Om selfstandigheid onder jong Afrikaners te bevorder en die werklikhede in Suid-Afrika te beïnvloed deur veldtogte te voer en aktief vir jong mense se burgerregte standpunt in te neem.
Visie
Om ’n bymekaarkomplek te wees vir jong Afrikaners op kampusse en in dorpe waar AfriForum-strukture gevestig is en as spreekbuis op te tree in gevalle waar daar teen jong mense gediskrimineer, hulle van hul moedertaalonderrig ontneem en hul grondwetlike regte geskend word; om te streef vir die uitbou van Afrikaans en Afrikanertradisies, en opleiding aan jong mense te bied om hulself te bemagtig om standpunt te kan inneem oor kwessies wat hul toekoms beïnvloed.