AfriForum Jeugtoer 2014: Die pad na ons harte

Ek het die voorreg gehad om vir ‘n tweede keer op die AfriForum Jeugtoer te gaan en as iemand my 2013-weergawe moet vergelyk met my 2014-weergawe sal hulle oë rek. Van onseker en skaam tot selfversekerd en (somtyds baie) praterig, die AfriForum Jeugtoer is ‘n unieke ervaring wat elkeen help groei en ontwikkel. Hierdie jaar was die toer net so ervaring met ‘n padreis vanaf Pretoria tot Orania, met Hartebeespoort, Rustenburg en Lichtenburg as ons besoekpunte. Elf mense…drie Avanzas…een lang pad. 

Ons toergroep het bestaan uit drie meisies, agt ouens en dan natuurlik ons toerleier Henk Maree. Die meerderheid jonges was studente van Tukkies of Kovsies omdat die ander takke “akademiese verpligtinge” gehad het (herre is vir sterre). Nadat ek almal se studierigtings gevra het, het stereotipering dadelik ingeskop by my. Die gevolgtrekking was dat ek gedink het ons op ‘n padreis is met mense wie se regterbrein ‘n bietjie gestimuleer moet word. Die lekkerste en grootste verrassing was dat pret toe self ontstaan en ontwikkel het onder ons toergroep. Die toer het verskeie kosbare oomblikke perfek vir ʼn realiteitsprogram gehad – van spotname uitdeel vir ons Avanzas tot paddas in kamers wegsteek en selfs drankies uit tekkies deel.

Die hoofdoel van die toer was om vir ons die geskiedenis van invloedryke Afrikaanse leiers, onder andere Paul Kruger en Generaal de la Rey te vertel. Maar ons besoek aan museums en monumente het nie net vir ons die krag van vorige leiers uitgebeeld nie, maar ook die krag wat van toekomstige Afrikaanse leiers verwag word.

Ons het die voorreg gehad om dele van ons land te sien wat ons nie noodwendig uit ons eie ooit sou besoek nie. Paul Kruger se plaas (wat die AfriForum GPS ons moes help vind) de la Rey se graf asook die unieke onafhanklike gemeenskap van Orania om ‘n paar te noem. Elke mens, omgewing en bestemming het ‘n unieke leerervaring gebied. Van die uiterse filosofiese dame by Cafe Riché in Kerkplein tot die dierbare ou tannie in Lichtenburg, elkeen het op hul eie manier bygedra om vir ons dieselfde boodskap te gee. Die Afrikaner is ‘n uithouer, aanhouer en vegter.

Ons het die toer begin as regstudente, toekomstige ingenieurs of onderwysers van verskillende provinsies en persepsies. Ons het teruggekom as ‘n groep vriende. So dankie julle, dankie dat ons saam op ons slaapsakke kon lê onder die sterre op ‘n perdeplaas, dankie dat ons kon redeneer en debatteer oor ons standpunte by studenteparlament, dankie dat ons saam “Stukkie van der Merwe” kon sing en ‘n onvergeetlike week kon hê. Soos ons Bloemfontein boeremeisie sê: “AfriForum Jeug-mense is lekker mense!”.

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

 

Kliek hier vir ‘n paar foto’s