Wat presies is die probleem, Suid-Afrika?

Laat die sogenaamde ‘Afrikaner’-universiteite Suid-Afrika se ‘getransformeerde’ universiteite sleg lyk? Is Afrikaner-studente ʼn maklike teiken omdat hulle tot dusver geweier het om hulle instellings af te brand, ongeag dreigemente dat die manier waarop hulle in hul eie taal in hul eie land kan studeer, verander gaan word? Het geweld normaal geword, en het Afrikaans uitgeworpe geword? Om een of ander rede lyk dit of almal haastig is om betrokke te raak sodra hulle ʼn geleentheid kry om (te help om) die rol en invloed van Afrikaans of Afrikaners aan universiteite uit te wis, maar dit lyk asof hulle ʼn bietjie doof, blind of albei is wanneer dit kom by gewelddadige optrede by hulle geliefde ‘getransformeerde’ universiteite. Laat my toe om vir u ʼn beeld te skilder.

Oor die afgelope paar maande het ons verskeie voorvalle gesien waarby wit studente aan sekere Suid-Afrikaanse universiteite betrokke was en wat gelei het tot openbare ontsteltenis. Twee wit studente aan die Universiteit van die Vrystaat is beskuldig van diskriminasie teen, mishandeling van en die doelbewuste raakry van ʼn swart student met hul motor. Die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit moes bewerings hanteer van ʼn Nazi-kultuur nadat ʼn sogenaamde Hitler-saluut getoon is in ʼn video van eerstejaarstudente. Toe is foto’s versprei van wit studente aan die Universiteit van Pretoria wat aangetrek en geverf was soos swart huishulpe, gevolg deur die onlangse foto van twee wit studente aan die Universiteit van Stellenbosch wat soos die Williams-susters opgemaak was.

Die twee studente in die Vrystaat is vrygespreek, die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit ervaar nog steeds die nadraai van die Nazi-voorval en staar drastiese veranderinge aan sy kampusstruktuur en –kultuur in die gesig, die studente in Pretoria is onderwerp aan dissiplinêre optrede, en geen aksie is geneem teen die studente op Stellenbosch nadat hulle vir hulle gedrag om verskoning gevra het nie. Ongeag die gevolge vir die mense wat betrokke is, het die (sosiale) media gewemel van kommentaar en menings oor hierdie sogenaamde ‘rassistiese’ voorvalle.

Wanneer groot groepe studente hulle egter wend tot geweld en vernietiging, lyk dit of die reaksie beperk is. Die afgelope paar jaar het gewelddadige en destruktiewe betogings by die Durban Universiteit van Tegnologie, Universiteit van Limpopo (MEDUNSA), Tshwane Universiteit van Tegnologie, Walter Sisulu Universiteit, Universiteit van Fort Hare en die Universiteit van KwaZulu-Natal daartoe gelei dat die polisie moes ingryp, of dat die instellings vir ʼn sekere tydperk gesluit moes word.

Daar is ʼn groot verskil tussen hierdie situasies: nie een van die voorvalle in Bloemfontein, Potchefstroom, Pretoria (Tuks) of Stellenbosch het polisie-optrede of die sluiting van die universiteitkampusse genoodsaak nie. Met ander woorde, die studentelewe en universiteitsverrigtinge is nie op ʼn groot skaal direk daardeur geraak nie. Die voorvalle by die ander universiteite het egter die universiteite genoop om alle studente huis toe te stuur vir ʼn sekere tydperk, en daardeur is alle studente aan daardie instellings van studie weerhou.

Nou vra ek die minister van hoër onderwys, mnr. Blade Nzimande, of dit sy eie geskiedenis as ʼn universiteitstudent is wat veroorsaak dat geweld en verwoesting aan ʼn universiteit vir hom aanvaarbaarder is as die rol van Afrikaners en die gebruik van Afrikaans aan universiteite. Die minister van hoër onderwys het self sy eie studies aan die Universiteit van Zoeloeland vir ‘n paar jaar onderbreek nadat die universiteite se administrasiegebou afgebrand is. Is dit die rede waarom hy sy reaksie op die geweld en vernietiging by universiteite beperk tot ʼn blote veroordeling daarvan, terwyl hy elke moontlike geleentheid aangryp om Afrikaans aan universiteite of Afrikanerstudente aan te val?

Die boodskap wat die minister oordra, is dat geweld die uitweg is om te kies vir ʼn student in Suid-Afrika. Geweld en vernietiging sal jou in minder moeilikheid laat beland as om jou gesig swart te verf, ongeag jou doel daarmee. Geweld en vernietiging sal jou in minder moeilikheid laat beland as om net daarvan beskuldig te word dat jy ʼn ander student teister en/of teen ʼn ander student diskrimineer. Dit blyk dat die minister eerder ʼn disfunksionele ‘getransformeerde’ universiteit as ʼn funksionele universiteit met ʼn Afrikaanse of Afrikanerinvloed verkies. Die minister veroordeel geweld wat gebruik word deur groepe studente, maar vind dit nodig om ʼn totale universiteit of kampusstrukture te kritiseer of te transformeer op grond van geïsoleerde voorvalle wat hy beskou as ‘wydverspreid’. Dr. Eloff het die minister tereg gekritiseer hiervoor, in sy onlangse ope brief aan die minister.

Ek is ook redelik seker dat die hele wêreld maklik ʼn keuse sou kon maak tussen geweld en vernietiging aan die een kant en ʼn minderheidsinvloed op ʼn paar universiteite aan die ander kant. Maar, soos Trevor Noah dit so treffend in sy vertonings uitbeeld: Wanneer die res van die wêreld in een rigting beweeg, sê Suid-Afrika: ‘Nee … Neeee … ons gaan daardie kant toe.’ As ʼn finale stukkie raad aan die minister van hoër onderwys, mnr. Blade Nzimande, wil ek voorstel dat hy met die nasionale polisiehoof gesels. Ek is seker dat generaal Phiyega hom sal inlig dat Afrikaans en Afrikaners aan universiteite geen probleme vir die polisie veroorsaak nie; dit is net sy emosies wat op hol is.

*Guido is 24 jaar oud, hy woon in Sittard (Nederland) en is besig met sy Meestersgraad in “Crisis and Security Management” aan die Universiteit van Leiden.