Vul gerus die vorm in vir enige navrae.

Naam *

E-pos *

Navrae

Taal/Language

Waarom ek van AfriForum en Solidariteit hou: Die skep van ʼn kultuur van hoop

deur in Blog Hou ons hier dop op 29 June, 2015

Vyf-en-twintig jaar oud, Nederlands, hou van musiek en politiek, meesterstudent in Krisis- en Sekuriteitsbestuur aan die Universiteit van Leiden, Den Haag-kampus in Nederland, en… ʼn trotse lid van en tans besig met ʼn internskap by AfriForum. Eersgenoemde lei nie gewoonlik na vrae nie, maar laasgenoemde vereis ʼn versigtige verduideliking wat ek nog nie kon verskaf nie, tot nóú.

My betrokkenheid by AfriForum en AfriForum Jeug het aansienlik gegroei sedert my aanvanklike kontak met Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, in Januarie 2014. Wat begin het as ʼn pleidooi om ingesluit te word by die nuusbrief se e-poslys, het ontwikkel in ʼn baie meer aktiewe lidmaatskap van beide AfriForum en AfriForum Jeug. Dit het die skep van verskeie blogs, ʼn kort besoek aan die AfriForum Hoofkantoor in 2014, en ʼn driemaande-internskap by AfriForum hierdie jaar tot gevolg gehad.

Dié van julle wat my vorige blogs gelees het, sal weet dat my belangstelling in Suid-Afrika, en meer spesifiek die Afrikaner en die Afrikaanse taal, begin het met ʼn toeriste-kuier na Suid-Afrika in 2013. ʼn Aanlyn-versoek om meer inligting te bekom, het my uiteindelik na AfriForum se Facebook-blad gelei en sedertdien het een ding tot die volgende gelei. Onnodig om te sê, ondersteun ek AfriForum se saak en hier is die redes daarvoor.

Suid-Afrika, soos vele ander lande, het sy eie geskiedenis en gevolglike uitdagings wat aangespreek moet word. Die nuwe bedeling het allerhande nuwe “bedreigings” vir Afrikaans, die Afrikaners en die Afrikaanse kultuur geskep, en ná 21 jaar van sogenaamde demokrasie, moet gevra word: Hoe hanteer ʼn mens hierdie bedreigings? Die beste opsie in my beskeie opinie, is om ʼn doen-dit-jouself kultuur en ʼn kultuur van hoop te skep. Die swakste opsie is om in ʼn kultuur van vrees te verval.

Kultuur van vrees

Frank Furedi, professor in sosiologie verbonde aan die Universiteit van Kent in die VK, het ʼn artikel geskryf met die titel, “The only thing we have to fear is the ‘culture of fear’ itself”. Die artikel fokus op die toenemende neiging van mense wat betrokke raak by verskeie kwessies deur die narratief van vrees, die gevare daarvan, en verskeie persepsies van en teorieë oor vrees. In my opinie is die mees treffendste aanhalings in hierdie artikel, dié van ʼn ander sosioloog, David Altheide, wat geskryf het dat “fear does not just happen; it is socially constructed and then manipulated by those who seek to benefit”. In ʼn tyd waar kommunikasie en die vrystelling van en toegang tot inligting, of dit nou waar of vals is, onmiddellik en eenvoudig geword het, word vrees nie meer gebaseer op eie ervaring nie, maar op ander mense se ervarings wat hulle aanlyn of op ander wyses gedeel het.

Een van die gevolge van die feit dat vrees nie meer ʼn self-ervaarde konsep is nie, is dat dit eerder die voorwerp van vrees, soos byvoorbeeld misdaad, is wat die kwessie geword het as die vrees. Die fokus het dus verskuif van die geveg teen ware misdaad na die geveg teen vrees vir misdaad. Deur ʼn sekuriteitsheining rondom jou huis op te rig, is nie ʼn waarborg dat daar nooit by jou huis ingebreek gaan word nie, maar dit sal egter heel moontlik veroorsaak dat jou vrees om beroof te word, sal verminder.

Vrees is nie alleenlik tot misdaad beperk nie. Vir Afrikaners is die vrees dat Afrikaans uit die skole, besighede en alledaagse lewe sal verdwyn, die vrees vir armoede, die vrees om nie toegelaat te word om jou voorkeur studierigting by jou voorkeur instelling te kan studeer nie, en die vrees dat jy nie ʼn werk sal kry ná jou studies nie… hierdie vrese is almal nóú en werklik. Hoe meer onrealisties vrese is, soos dié van Wit Volksmoord of komplekse samesweringsteorieë, word gereeld deur marginale groepe misbruik en ook deur mense misbruik wat vrees gebruik om hulle eie agendas te dryf. Hulle het geen wesenlike bewyse vir die vrees wat hulle by mense wil opwek nie, en tog word stories wat as feite en voorstellings van die “waarheid” aangebied word, maklik deur die groot sosiale media-gehore aanvaar. Dit beteken nie dat party van die wrede en aaklige misdade wat regoor die land gepleeg word, nie aaklig en onmenslik is nie, maar aan die ander kant is die erg oordrewe konneksie tussen die vrees vir misdaad en die vrees vir Wit Volksmoord iets wat met die nodige kritiek bestudeer moet word.

Die gevare om besluite te neem wat gebaseer is op vrees, word deur Dolleen Bell, spesialis in sekuriteitsteorieë, bespreek in haar analise van die Kanadese Nasionale Sekuriteitsbeleid. Sy lig uit hoe die Kanadese regering op die 9/11-terroriste-aanvalle in die Verenigde State gereageer het; hulle het verskeie nuwe sekuriteitsverwante wette ingestel om terrorisme teen te werk. In hulle behoefte om veilig te voel en vrees te verminder, was Kanadese burgers al te gelukkig om dele van hulle vryheid op te gee, sodat hierdie wette moontlik kon word. Uiteindelik het die Kanadese regering agtergekom hoe maklik dit was om vryheidbeperkende wette in te stel wanneer dit aangebied is onder ʼn sambreel van ʼn “veiliger Kanada”, en as gevolg hiervan, word meer en meer nie-sekuriteitswette aangebied as die verskerping van sekuriteit in Kanada. Die waarskuwing wat oorgedra word, is dat ʼn mens nie moet toelaat dat vrees só ʼn groot faktor in jou lewe word, dat jy bereid is om meer op te offer as wat jy moet net om veilig te voel nie. Bly krities in jou eie besluite en dié van ander wat vanuit ʼn siening van vrees logies blyk te wees.

Die Solidariteit Beweging en meer spesifiek AfriForum en AfriForum Jeug is nie blind wanneer dit by Afrikaner-vrese kom nie. Anders as sommige van die ander organisasies en mense wat beweer om teen hierdie vrese op te tree en wat sodoende hulle eie agendas verhoog of die vlakke van vrees in hulle volgelinge wil verhoog, erken die organisasies binne die groter Solidariteit Beweging eerder hierdie vrese en werk dit teen met ʼn kultuur van hoop. Moet my asseblief nie verkeerd verstaan nie, die punt van hierdie artikel is nie om jou te probeer oortuig om vir niks bang te wees nie, maar eerder om jou te oortuig dat om besluite te neem en beleid te skep wat op vrees gebaseer is, ʼn slegte idee is.

Die Solidariteit Beweging se onlangse krisisberaad is ʼn goeie voorbeeld van hoe hierdie organisasie vrese teenwerk met ʼn kultuur van hoop. Die organisasie ontken nie die probleme wat hierdie mooi land in die gesig staar nie, dit word egter teengewerk deur ʼn kultuur van hoop en probleemoplossing, eerder as ʼn kultuur wat vrees vergroot in die hoop om ʼn paar ekstra volgelinge/lede te trek. Die feit dat ander marginale organisasies al hoe meer daarna neig om ʼn openlike anti-Solidariteit-kultuur aan te neem, is ʼn duidelike aanduiding dat hulle bang is om die kultuur van vrees te verloor. Hulle doelwitte en agendas vereis ʼn Afrikaner wat deur vrees gedryf word, omdat desperate mense meer geneig is om desperate dade te doen.

Om af te sluit, wil ek dit graag stel dat my persepsie van die Afrikaner nie een van vrees is nie. Ek glo vas dat die Afrikaner steeds ʼn belangrike rol het om te speel in hierdie land en dit is presies die rede waarom hy/sy dit nie kan bekostig om deur vrees gelei te word nie. Die Afrikaner moet, soos dié voor hulle, bereid wees om hierdie land weereens op te bou deur harde werk. Om op die kantlyn te sit en te skree (of tik) oor hoe sleg dinge geraak het en hoe almal anders dit alles verkeerd doen, sal absoluut niks bereik nie en sal slegs vrees opwek by die mense wat soos volg deur Sir Arthur Conan Doyle beskryf is:

“A community of Dutchmen of the type of those who defended themselves for fifty years against all the power of Spain at a time when Spain was the greatest power in the world. Intermix with them a strain of those inflexible French Huguenots who gave up home and fortune and left their country forever at the time of the revocation of the Edict of Nantes. The product must obviously be one of the most rugged, virile, unconquerable races ever seen upon earth.”

Vir my dra die Solidariteit Beweging en sy lede die nalatenskap van sterk mense, mense wat daartoe in staat is om ʼn hou of twee te vat en baie vinnig weer terug te spring op hulle voete. Afrikaners wat verder as die horison sien, die vermoë het om ʼn pad na die toekoms uit te kerf wat gebaseer is op hoop en harde werk en dít alles in ʼn realiteit kan verander. Ek weier om te glo dat Afrikaners verander het in ʼn spul sleutelbord-krygers, wat gefokus is op en bang is vir samesweringsteorieë en wat slegs betrokke raak in die slegsê van ander. Diegene wat hulself binne die sleutelbord-krygersrange bevind, het produkte en ambassadeurs geword van ʼn kultuur van vrees in die nuwe Suid-Afrika. Nie alleenlik lewe hulle in vrees vir hulle alledaagse lewens nie, hulle vrees ook die verlies van daardie vrees deur die aksies van organisasies soos die Solidariteit Beweging, AfriForum en AfriForum Jeug. Wend jou vrees aan, dra dit saam jou, wees bewus daarvan, maar moenie toelaat dat dit die leidende faktor in jou lewe word nie – bou eerder jou toekoms op hoop.

Furedi, F. (2007, April 4). The only thing we have to fear is the ‘culture of fear’ itself. Verkry vanaf http://www.spikedonline.com/newsite/article/3053#.VYJzBWAX33w.