Verlof tot appèl gereserveer in saak van AfriForum en Solidariteit oor Afrikaans by Tukkies

Verlof tot appèl in die saak van AfriForum en Solidariteit teen die nuut aanvaarde taalbeleid van die Universiteit van Pretoria (UP) is vandag in die Noord-Gautengse hoë hof gereserveer totdat die hoogste hof van appèl uitspraak lewer in die saak van AfriForum en Solidariteit teen die bestuur van die Universiteit van die Vrystaat (UV) se nuut aanvaarde taalbeleid. 

 

Albei sake handel oor die uitfasering van Afrikaans as primêre taal van onderrig aan die twee instellings.

 

Bogenoemde besluit word verwelkom. Hoewel die twee universiteite se sake verskille vertoon, gaan beide oor die breër beginsels van taalregtehandhawing, die reg tot moedertaalonderrig, asook bepalings van die Grondwet en ander Suid-Afrikaanse wetgewing in hierdie verband.

 

Die uitspraak in die UV-appèlsaak sal belangrike argumente en beginsels identifiseer. Deur uitspraak in die beslissing oor toestemming om verlof tot appèl in die UP-saak te reserveer, word ’n geleentheid aan AfriForum en Solidariteit gebied om ook argumente in die saak by te werk om dit in te sluit.

 

AfriForum en Solidariteit sal enige stappe moontlik neem ter beskerming en handhawing van Afrikaanse studente se reg om in hulle moedertaal te studeer. Lede van AfriForum Jeug wat aan die UP studeer het ook vandag se verrigtinge met groot belangstelling dopgehou en weer beklemtoon dat Afrikaanse onderrig van die grootste belang vir hulle is.