applyforufs2013-300x171-1

UV en OVK hou uitslae van taalpeiling geheim

Die Universiteit van die Vrystaat (UV) en die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het aan AfriForum Jeug bevestig dat hulle nie die uitslae van die meningspeiling oor taal op die UV-kampus bekend gaan maak nie. Die UV se verduideliking is dat dié data verwerk sal word en dat slegs dáárdie weergawe voor die raad sal dien.

“Na afloop van die peiling is die uitslae nooit bekendgemaak nie en nou weier hulle wéér om dit bekend te maak. Toe ons by die OVK – wat die peiling hanteer het – en die UV begin navraag doen, is ons ingelig dat geen inligting versprei mag word nie, omdat hulle memorandum van verstandhouding dit verbied. Waarom word hierdie inligting van die publiek weerhou?” het Morné Mostert, AfriForum Jeug se nasionale verteenwoordiger, gevra.

AfriForum Jeug het voorheen ’n veldtog van stapel gestuur om duisende studente te oorreed om aan die peiling deel te neem.

AfriForum Jeug Kovsies het ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting, 2000, by die universiteit ingedien sodat die inligting bekendgemaak word soos dit by die verkillende stembusse versamel is. Voorts word daar versoek dat die universiteit die memorandum van verstandhouding tussen hulle en die OVK openbaar moet maak.

“Ons is nie verbaas dat prof. Jansen ʼn politieke agenda voer nie. Dit is egter kommerwekkend dat die OVK, ’n liggaam wat oor die algemeen vir geloofwaardigheid staan, hierdie inligting aan ons weier. Ons weet nie of die ware uitslae ooit by die studente of die raad sal uitkom nie.”

AfriForum Jeug Kovsies het in Augustus kommentaar oor die UV se taalbeleid ingedien, wat op 4 Desember 2015 voor die raad sal dien.

Sluit aan by AfriForum Jeug deur “Kovsies” na 32687 te SMS (R1 per SMS).