IMG-20160519-WA0013

US moet taalbeleid toepas, beveel hof – AfriForum Jeug

Regter Kate Savage het vandag in die Kaapse hooggeregshof die dringende tussentydse interdik wat AfriForum Jeug op 11 Maart 2016 teen die Universiteit van Stellenbosch (US) verkry het, bekragtig.

Dié uitspraak verplig die US nou om sy taalbeleid en -plan te implementeer, sowel as die taalspesifikasies wat in die 2016-jaarboek gepubliseer is.

Dit volg nadat AfriForum Jeug vroeër vanjaar ’n hofaansoek teen die US gebring het nadat dit aan die lig gekom het dat die US homself nie aan sy eie taalbeleid onderwerp nie. Dié beleid bepaal dat Afrikaans en Engels gelyke status as onderrigmediums moet geniet. Die US het voorts op 20 Februarie 2016 ’n raadsbesluit geneem dat dié taalbeleid buigsaam toegepas kan word. Dit is ook in die aanvanklike hofaansoek betwis. Die Raad het die besluit egter op 9 Mei 2016 herroep in die lig van die organisasie se aansoek.

“Ons is baie tevrede met die uitspraak. Ons sal nietemin steeds waaksaam wees en seker maak dat die US die korrekte, regsgeldige prosedure volg. Ons sal met ons veldtog aanhou om te verseker dat Afrikaans nie as onderrigtaal aan die US afgeskaf word nie,” het Bernard Pieters, AfriForum Jeug se Maties-kampuskoördineerder, gesê.