OLYMPUS DIGITAL CAMERA

Uitspraak in saak oor UP-taalbeleid ’n groot terugslag

’n Terugslag vir Suid-Afrikaanse taalregte – dít is hoe die applikante AfriForum, AfriForum Jeug en Solidariteit die uitspraak van die Noord-Gautengse hoë hof in hul taalhofsaak teen die Universiteit van Pretoria (UP) beskryf. Die UP gaan in 2017 Afrikaans as medium van onderrig begin uitfaseer. Die saak is op 1 Desember 2016 aangehoor en dié drie organisasies se aansoek is vandag met koste van die hand gewys.

AfriForum, AfriForum Jeug en Solidariteit se regspan sal die uitspraak in detail bestudeer ten einde ’n besluit te neem om te appelleer al dan nie. Hulle is steeds van mening dat die universiteit se nuwe taalbeleid op ’n growwe skending van Afrikaanse studente se grondwetlik erkende taalregte neerkom.

Die drie organisasies sal enige stappe moontlik neem ter beskerming en handhawing van Afrikaanse studente se reg om in hulle moedertaal te studeer. Hulle het vanjaar reeds ’n soortgelyke saak teen die bestuur van die Universiteit van die Vrystaat gewen.

Die saak gaan ook nie net om die beregtiging van Afrikaanse studente nie, maar om die beskerming van die beginsels van moedertaalonderrig en meertaligheid, teenoor eentalige Engelse onderrig wat toenemend deur instellings afgedwing word. Dít ten koste van die sowat 90% van die land se inwoners wat ander moedertale het.