53bef34568480b1e83921dd7-e1408088054184

Tukkies-koshuise se voortbestaan gewaarborg – AfriForum Jeug

Daar sal geen verandering aan die Universiteit van Pretoria (UP) se koshuise gemaak word sonder dat daar met die koshuise en studente gekonsulteer word nie.

“Dis ʼn sprekende voorbeeld van hoe die Studenteraad, AfriForum Jeug en koshuisstudente saam kan werk om studente se stem dik te maak,” sê Rochelle Oosthuyse, voorsitter van AfriForum Jeug Tukkies.

Dié aankondiging is op Dinsdag, 29 Julie 2014 gemaak tydens ’n vergadering tussen AfriForum Jeug, die president van Tukkies se Studenteraad (VSR), die VSR-lid verantwoordelik vir koshuise en die visekanselier van die UP, prof. Cheryl de la Rey.

Dit volg nadat AfriForum Jeug onlangs die UP se besluit onthul het dat hulle beplan om koshuise in woonstelblokke te verander deur koshuise afsonderlik te verdeel tussen eerstejaar en senior studente.

Die onlangse vergadering was geskeduleer na AfriForum Jeug op Maandag, 28 Julie ʼn memorandum met die handtekeninge van 1 600 studente, wat in 3 dae ingevorder is, in ʼn kis voor die Roosmaryngebou, waar die studentedekaan se kantoor is, gelos het.

“Ons is tevrede met die aankondigings wat deur van prof. De la Rey gemaak is. Dit klaar die onsekerheid oor koshuise se voortbestaan op. Die beplande veranderinge sou studentelewe nadelig beïnvloed, en die feit dat studente nie in die saak geken was nie, was een van ons grootste probleme,” sê Oosthuyse.

Prof. De la Rey se aankondigings sluit die volgende in:

  • Dat daar geen verandering aan koshuise sal plaasvind nie, behalwe die opgradering van sommige van die ouer koshuise
  • Koshuise sal geken word in toekomstige besluite
  • Tradisies sal voortleef solank dit inklusief vir almal is

AfriForum Jeug sal die gebeure rondom koshuise en ʼn gesonde studentelewe dophou om te verseker dat studente nie onder ondeurdagte besluite van die universiteitsbestuur ly nie.