logostackleft300

Terugslag vir Afrikaans by Maties

AfriForum Jeug het met kommer kennis geneem van die besluit van die Universiteit van Stellenbosch (US) se Raad tydens hulle Raadsvergadering op 28 September om nie meer Afrikaans as onderrigtaal te beskerm in die amptelike taalbeleid van die universiteit en ander dokumente nie.  

“Die feit dat die Raad die woord ‘beskerm’ verwyder, wys dat die Raad geen voorneme het om Afrikaans as onderrigtaal by die US te behou nie, die Raad is dus direk aanspreeklik vir die wegval van Afrikaans by nog een van SA se universiteite,” het Eduan Dupper, woordvoerder van AfriForum Jeug, gesê.

“Dit is ongehoord dat die Raad gehoor gee aan die eise van ʼn radikale en rassistiese groepering soos Open Stellenbosch (OS) wat weier om met die universiteit te vergader en nie eers ʼn geregistreerde organisasie op kampus is nie,” het Dupper bygevoeg.

AfriForum Jeug is van mening dat die Raad hom nie moet laat voorsê deur groeperings sonder enige legitimiteit en wat nie bereid is om die korrekte kanale te volg nie. Daar is talle ander organisasies wat gereeld insette lewer deur die regte prosedures te volg, maar dit blyk asof die Raad nie ag slaan op hulle menings nie maar eerder reageer op diegene wat nie die prosedures volg nie.

AfriForum Jeug is ook van plan om ʼn skrywe aan die Raad te rig om onder meer uit te vind wat die redes vir die besluit is asook hoekom daar nog geen dissiplinêre stappe teen lede van OS geneem is wat klasse ontwrig het en ander studente van hulle klastyd ontneem het nie, terwyl daar vinnig teen raadslede opgetree word wat hulle vryheid van spraak gebruik om ideologieë soos transformasie te bevraagteken.

“Die Raad moet ook nie dink dat Open Stellenbosch die stem van die algemene student op Stellenbosch is nie en hulle verteenwoordig hoegenaamd nie die oorgrote meerderheid van studente op Stellenbosch nie. Hulle sal moet besluit wat belangriker is, hulle eie studente of studente van ander universiteite wat met busse aangery word?” het Dupper afgesluit.

Afrikaans is weereens die teiken van radikale transformasie. Dit is duidelik dat daar geen staanplek vir Afrikaans in ons sogenaamde “reënboognasie” is nie.