Terugblik op die week by die VN

AfriForum Jeug, AfriForum en Solidariteit het die afgelope week die 2 461ste sitting van die Verenigde Nasies se komitee vir die uitwissing van rassediskriminasie (CERD) in Genève, Switserland bygewoon.

Dié drie organisasies het ’n klag in die vorm van ’n skaduverslag teen die Suid-Afrikaanse regering ingedien. Die klag handel spesifiek oor die rigiede benadering wat die regering ten opsigte van regstellende aksie in verskeie areas in die samelewing volg. Dit is die eerste keer sedert 1994 dat die Suid-Afrikaanse regering ’n klag by die VN moes verdedig en ook die eerste keer in 10 jaar dat dié regering ’n verslag by die CERD moes aanbied.

Die verrigtinge het basies uit drie dele bestaan. Die eerste het die voorlegging van die afvaardiging se skaduverslag aan die CERD behels, asook die beantwoording van enige vrae wat die komitee gehad het. Daarna het ’n privaat sessie met van die komiteelede gevolg. Laastens moes die Suid-Afrikaanse regering sy verslag oor die vordering van die uitwissing van rassediskriminasie in Suid-Afrika voorlê, gevolg deur ’n vraag-en-antwoordsessie deur die komitee aan die regering.

Die dialoog tussen die komitee en die regering het basies bestaan uit konsepte wat in die afvaardiging se skaduverslag aangeraak is. Die komitee was baie verbaas oor die nuwe perspektief wat die afvaardiging aan hulle gegee het. Die hoofpunt wat aangeraak is, is die kwessie van kwotastelsels wat suiwer op ras gebaseer en wiskundig bepaal word.

Die regering se antwoord was dat daar geen rassekwotas in Suid-Afrika bestaan nie, maar dat dit eerder teikens is waarna hulle streef. Henrico Barnard, AfriForum Jeug se woordvoerder, is egter van mening dat dit nié die geval is nie. Volgens Barnard is daar duidelike rassebeleide wat toegepas word in die geval van sport, universiteitstoelating en beroepsaanstellings.

“Ek is tans ’n universiteitstudent en word al van skooldae af gekonfronteer met keuringsprosesse waar ras die bepalende faktor is. Ek het dit spesifiek ervaar in sport, universiteitskeuring asook nagraadse aanstellings.”

In geheel is die afvaardiging se ervaring van die week se verrigtinge positief, ook omdat hul bekommernis ter harte geneem is.

Die komitee sal binne twee maande ’n verslag opstel en aanbevelings aan die Suid-Afrikaanse regering maak. Dit dra baie gewig omdat Suid-Afrika die CERD-konvensie bekragtig het. Die regering is dus verplig om wetgewing daarmee te belyn, en moet binne twee jaar verslag doen oor hoe die komitee se aanbevelings geïmplementeer is.

  • Deur Henrico Barnard