Die_skip_University_of_pretoria-1-1024x6801-1

Taaibos-studente teleurgesteld oor UP se hantering van rassisme-klagtes

Die sekuriteitsdepartement van die Universiteit van Pretoria het vir die getuies van ʼn rassistiese voorval by die Taaibos-koshuis gesê die video-opnames van die sekuriteitskameras by die hek waar die voorval plaasgevind het, is te donker en dat ander kameras buite werking was. 

Dit, nadat ʼn Taaibos-student, Emuel Venter ʼn klag namens ander Taaibos-inwoners gaan aanmeld het, nadat twee swart studente die aand van 4 September 2014 by die hekke geskree het dat hulle alle wit mense haat en wil doodmaak.

TuksRes het ook laat weet dat die hek waar die ongeïdentifiseerde studente ingekom het daardie aand nie gewerk het nie en dat die data van die hekke nie nagegaan kan word nie.

“Die verskonings laat ons sonder woorde. TuksRes se verduidelikings is ongegrond, aangesien Taaibos-studente bevestig het dat hulle kort voor die insident by die hek ingekom het, en dat hy gewerk het,” het Monique du Randt, woordvoerder van AfriForum Jeug gesê.

Volgens AfriForum Jeug het Venter die insident 5 September 2014 by die universiteit aangemeld, sodat die twee ongeïdentifiseerde studente uitgeken kan word en ’n formele klag teen hulle gelê kan word. Sekuriteit het Venter verseker dat hulle die saak verder sal hanteer.

UP-sekuriteit het Venter en die ander ses getuies gekontak en ʼn ontmoeting gereël. Die getuies het sedertdien twee vergaderings met UP-sekuriteit gehad, en moes skriftelike verklarings indien.

“AfriForum Jeug dring daarop aan dat hierdie rassistiese voorval met die nodige erns en dringendheid deur die Universiteit van Pretoria opgelos word.”