Vul gerus die vorm in vir enige navrae.

Naam *

E-pos *

Navrae

Taal/Language

Studente wys passie vir taal in gedigte

deur in Witwarm op 17 September, 2015

Afrikaans is nie dood nie. Lank lewe Afrikaans!

Dié boodskap was baie duidelik uit die paar honderd inskrywings wat vandeesmaand vir AfriForum Jeug se gedigkompetisie ingestroom het.

AfriForum Jeug het die wedstryd vir universiteitstudente aangebied ter bevordering van Afrikaans en om toekomstige woordkunstenaars geleentheid te gee om met passie te dig oor onderwerpe wat hulle na aan die hart lê. Studente van verskeie universiteite waaronder Kovsies, Maties, Pukke en Tukkies het die kans aangegryp.

Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê die groot hoeveelheid gedigte wat ontvang is, was ʼn baie groot verrassing.

“Daar is gedigte van hoë gehalte en dit is duidelik dat die inskrywers baie sterk voel oor hulle moedertaal, kwessies wat die Suid-Afrikaanse samelewing in die gesig staar soos armoede en geweld … en natuurlik die liefde.”

Volgens Bailey was dit baie moeilik om op ’n wenner te besluit.

“Ons wens AfriForum Jeug geluk met dié inisiatief en hoop dit word ʼn jaarlikse instelling. Skeppende letterkundige kreatiwiteit is ʼn vereiste vir die oorlewing van Afrikaans as hoëfunksietaal en so is hierdie gedigte dan ook boustene op die pad van die taal die toekoms in.  Hopelik sal hierdie jong digters aanhou skryf – ons sien uit na meer van hulle pennevrugte,” het Bailey gesê.

Die wenners van die kompetisie is:

  • Eerste plek: Michelle de la Harpe van Tukkies met Moord.
  • Tweede plek: Molly Bester van Tukkies met Moedertaal.
  • Derde plek: Hilda Schutte van die Noordwes-universiteit met stop.
  • Prys vir verdienstelikheid: Pierre Rochér van Kovsies met My Afrika (Die prys is onder meer vir sy kreatiewe benadering om die gedig in die vorm van die Afrika-kontinent aan te bied – My Afrika )

Die prysgeld wat die wenners kry, is boekgeskenkbewyse ter waarde van tussen R300 en R500 van Kraal Uitgewers.

Hier is die wengedigte: 

Moord

Moord op die strate,

moord in elk’ koerant,

Moord ’n emosionele vuur,

wat in alle harte brand.

 

Moord op die renoster,

moord op die Boer,

Moord in al die flieks,

groot-oog kinders wat loer.

 

Sy geboorte by Abel en Kain,

voor die ANC, Apartheid of die ontdekking van goud.

Moord is ’n oertyd wond,

Met stilte as die sout.

 

En by my as Afrikaner,

Is daar ’n moord bowenal:

’n Moord so onderbeklemtoon,

Dis die moord op my taal.

 

 

Moedertaal

In hierdie nuwerwetse klug

van mode en geit en gier

waar ons agter die glimlag van ’n aanplak-gesig

moet smokkel met ons voorgeslag-kultuur,

waar ons moet leer in ’n ander taal,

met ’n volksvreemde tong moet kwalifiseer,

en iets uit elke eksotiese stam moet gaan haal

sodat die wêreld ons kan goedkeur,

waar ons versmoor in die hartstog

van Westerse verhale en rolprente

en onwetend begin agtervolg

die onoordeelkundige mors van ons sente

wat met die eelte op die hande

en die sweet op die wenkbroue

van ons vaders, ure op die lande

en agter die osse se toue

vir ons bymekaar gemaak is,

 

dis in hierdie tyd van duister

dat ek ons erfenis mis –

in die stilte probeer luister

of ek nog ’n ander stem kan hoor,

want as hierdie hart sy mond oop maak,

al is dit vir geen oor,

ja wanneer ek stil raak:

as ek bid of droom of verlang,

as ek liefhet of wens

of stry teen die bang

of my humeur begrens,

of huil of in lag verbly

of sommer net dink,

word die hart in Afrikaans bevry,

vryf ek my siel in Moedertaal blink.

 

 

stop

Hy sit op sy sementpaadjie

daar waar die verkeerslig homself uitbloei…

In sy hand hou hy ‘n kotsgeeldraadjie

En in sy hart: bedel die bloed vir nog ‘n dag se vloei.

 

Met sy vingernaels: vuil, lank en roesagtigbroos,

bind hy dit aan ‘n kruisie in sy geharde bakhande.

‘n Sigaret in die mond: om die eensaamheid te troos

en ‘n oerhekelhoed: vermom hom in sy skande

 

Hy kyk nooit op nie

maar fokus eerder op sy kruis…

Waar die karre stop híér –

Langs sy straathuis.

 

Hier sit ‘n uitgeholde mens en vergaan.

Hier sit hy met sy gebroke siel in ‘n graf,

en hy: hy wat alles verstaan,

Hy – hý dra die grootste las

 

En voor die lig my wegverkeer

kon ek sweer ek sien ‘n skoon uit hom uitruk

soos ‘n helder traan sy woestynwang skeer

en hy sy kruis styf met albei hande teen sy borskas vasdruk.

My Afrika