Studente laat Tukkies-jool weer vlot

AfriForum Jeug se Tukkies-tak het ná talle klagtes van studente die Verteenwoordigende Studenteraad (VSR)  bygestaan om die Universiteit van Pretoria (UP) van hul idee te laat afsien om die jooloptog te kanselleer.

Die UP het in Desember verlede jaar voorlopig aangedui dat hulle die jaarlikse jool wil afskaal en dat hulle van plan was om die feestelike optog met vlotte nie meer soos oudergewoonte deur die strate toe te laat nie, maar wel by die L.C. de Villiers-sportgronde uit te stal.

“Ons het klagtes van studente opgevolg en probeer om agter die kap van die byl te kom waarom die Universiteit besluit het op die afskaffing van jool. Die Universiteit het ʼn gebrek aan fondse as rede gegee. Jool sou ʼn finansiële las wees eerder as fondsinsameling vir liefdadigheid. AfriForum Jeug is egter van mening dat daar genoeg borge spesifiek vir hierdie doel is en dat daar die moontlikheid bestaan om meer borge te kry indien daar nie genoeg fondse is nie,” het Rochelle Oosthuyse, voorsitter van AfriForum Jeug Tukkies gesê.

AfriForum Jeug het ʼn veldtog van stapel gestuur en ’n brief aan die Universiteit se rektor, prof. Cheryl de la Rey, gerig met besware teen die afskaffing van die optog. ʼn Vergadering is gister tussen die UP se VSR, wat ook nie in die saak geken is nie, en die universiteitsbestuur gehou. Die uitslag is verblydend: Die jool sal voortgaan.

“Ons is bly dat die Universiteit besluit het om die studente te ken in besluite van hierdie omvang. Die koshuise se harde werk spesifiek vir die “Skou van vlotte” sal darem nou aan studente en die publiek vertoon kan word. Die jool is van groot waarde. Elke koshuis samel geld vir liefdadigheid in en dit bied studente die geleentheid om by liefdadigheidsorganisasies betrokke te raak. AfriForum Jeug Tukkies sal aanhou stry vir die behoud van gesonde studentetradisies. Ons wil die VSR bedank vir hulle harde werk om studentetradisies te behou, en dit is opnuut ʼn bewys van hoe belangrik dit is om die regte mense op die VSR te hê,” het Oosthuyse afgesluit.