UP se stilswye oor Afrikaanse geskiedenis

Die studentedekaan van die Universiteit van Pretoria (UP), professor McGlory Speckman, weier om op AfriForum Jeug se versoek dat die versteekte Paul Kruger bidtuin op die UP Hoofkampus sigbaar gemaak moet word, te reageer. 

AfriForum Jeug UP het die afgelope drie maande etlike briewe aan die studentedekaan gerig waarin gevra word dat hierdie gedenkwaardigheid beskerm moet word en sigbaar gemaak word.  Die gedenkwaardigheid bestaan uit vyf klippe wat vanuit Paul Kruger se bidtuin afkomstig is, asook ʼn gedenkplaat wat deur die Krugergenootskap ter viering van die Universiteit se halfeeufees geskenk is.

AfriForum Jeug se UP-tak het met die ondersteuning van die Krugergenootskap die bidtuin op 5 Maart 2008 vanjaar opnuut ingehuldig en ʼn brief aan die studentedekaan gerig waarop slegs met ʼn kennis van ontvangs gereageer is.  Op 25 April vanjaar is ʼn volgende skrywe aan die studentedekaan gerig om navraag te doen of daar enige vordering is.  In hierdie skrywe is die studentedekaan ook gemaan om binne 2 weke te reageer.

“Dit is vandag presies 147 dae sedert die eerste skrywe aan die studentedekaan,” het Charl Oberholzer, woordvoerder van AfriForum Jeug UP gesê.  “Studente ervaar dat die UP skaam vir sy Afrikaanse studente geword het en die studentedekaan se optrede is vir ons weer ʼn bewys hiervan.”

“Die Universiteit van Pretoria het ʼn ryk geskiedenis waarop aanspraak gemaak moet word om ook sodoende studente weer tuis op kampus te laat voel,” het Oberholzer gesê.  Die Universiteit van Pretoria se stilswye oor hierdie gedenkwaardigheid en ook oor Afrikaanse geskiedenis is onaanvaarbaar.  As die Universiteit homself bemark as die grootste Afrikaanse universiteit, moet die bestuur hulleself daartoe verbind om erkenning aan Afrikaanse geskiedenis te gee.

Soos reeds genoem, is die gedenkwaardigheid tydens die Universiteit se halfeeufeesvieringe deur die Krugergenootskap geskenk.  Afriforum Jeug se versoek is gerig met die oog op vanjaar se eeufeesviering van die Universiteit – om die verlede en begin van die Universiteit te herdenk en ook vorentoe te kyk om die toekoms van hierdie universiteit te vier.

AfriForum Jeug het onderneem om weer met die Krugergenootskap in verbinding te tree om oor die toekoms van die gedenkwaardigheid te gesels.

Foto’s van die bidtuin, asook die briewe wat aan die studentedekaan gerig is, is op versoek beskikbaar.