Redelikheid is AfriForum se wagwoord

AfriForum en Solidariteit se beleid is dat elke veldtog wat ons aanpak, gebasseer moet wees op redelike argumente, billikheid en met erkenning van die beginsel van die bevordering van wedersydse erkenning en respek tussen gemeenskappe. Ten spyte hiervan, vind Piet Croucamp dit raadsaam om in sy artikel “Redelike mense is ons sterkte” (Beeld 28 Oktober), AfriForum en Solidariteit te probeer voorhou as sogenaamde onredelike organisasies. 

Al het hierdie soort aanvalle vanuit die geledere van ‘n groepie Afrikaanse kommentators, wat geen verdraagsaamheid toon teenoor enige iemand wat dit durf waag om van hulle standpunte te verskil, voorspelbaar geword, kan Croucamp se aanval nie onbeantwoord gelaat word nie.

Croucamp gebruik ʼn ou strategie, naamlik om homself in die “redelike middelgrond” te plaas en dan almal wat die doodsonde begaan om van sy ideologie te verskil, as randfigure te probeer uitwys. Hy slaag egter nie hierin nie, aangesien sy eie optrede – soos verewig in die opname van die gekruide taal en lasterlike uitsprake waarmee hy teen Christene uitgevaar het tydens ‘n debat by die Universiteit van Johannesburg – wys dat hy as radikale homself nie met geloofwaardigheid in die “redelike middelgrond” kan plaas nie.

Dit is ook opmerklik dat Croucamp nie enige van AfriForum se uitsprake aanhaal om sy argument te staaf nie. Die rede hiervoor is eenvoudig: AfriForum hou hom nie besig met radikale of onredelike uitsprake nie. Sy kritiek kan dus nie voortvloei uit wat AfriForum sê of doen nie, maar is waarskynlik gerig op wat AfriForum is. Die feit dat AfriForum se lede hulleself oorwegend as Afrikaners beskou, steek hom dwars in die krop.

Al lewer AfriForum as inklusiewe Afrikaner-organisasie op talle wyses ook ‘n bydra om al ons landgenote se lewens te verbeter, soos met aksies om skoon water, veiliger woonbuurte en beter dienslewering aan almal in ons land se dorpe te probeer verseker, is die organisasie steeds nie vir Croucamp aanvaarbaar nie. Croucamp swyg ook baie gerieflik oor die feit dat AfriForum onlangs die “swart” Wallmansthal Communal Property Assosiation in die hof bygestaan het om hulle grond terug te kry nadat dit deur plakkers beset is. Croucamp se pogings om ten spyte hiervan ‘n etiket om die nek van AfriForum of enige organisasie wat dit durf waag op te tree in sake wat vir baie Afrikaners belangrik is, te hang, getuig nie van die optrede van iemand wat homself as deel van die “redelike middelgrond” wil voorhou nie.

Te midde van die omstandighede waar ‘n rap-groep voel dit is aanvaarbaar om geweld teen Afrikaners aan te hits en Julius Malema homself as verhewe bo die wet beskou, sien Croucamp “redelikheid” en om te swyg oor die onbillike optrede teenoor Afrikaners, verkeerdelik as sinoniem tot mekaar. Dit is beslis redelik om binne die raamwerk van die wet standpunt in te neem teen ‘n rap-groep en Malema se tirades. Wat onredelik is, is om organisasies wat dit durf waag om op te staan teen hierdie onreg, as onredelik te probeer afmaak en saam met die EFF in ‘n kamp te plaas.

AfriForum onderskryf die beginsel van wedersydse erkenning en respek tussen die land se onderskeie gemeenskappe.  Vanuit hierdie basis is AfriForum se veldtogte en argumente nie daarop geskoei om enige gemeenskap te beledig nie.  As jy respek betoon, kan jy ook met selfvertroue respek opeis en standpunt teen ‘n rap-groep en Malema se haatspraak inneem.

Intussen sal AfriForum voortgaan as middelgrond organisasie om burgerregte te bevorder, sonder om toe te laat dat diegene wat valse etikette om die organisasie se nek wil hang, ons verhoed om te doen wat billik, redelik en reg is.

Deur Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug