Rassisme ontstel wit Tukkies-studente; AfriForum Jeug eis optrede

Studente van die Taaibos-koshuis van die Universiteit van Pretoria (UP) is erg ontstel, nadat twee ongeïdentifiseerde swart studente van Kollege Tehuis die aand van 4 September 2014 rassistiese uitlatings en dreigemente teenoor wit studente by die hekke van Taaibos geuiter het. 

“Die een student het wit studente gevloek en geskree dat hy wit mense haat en dat hy al die wit mense wil doodmaak. Die verbale aanval het Taaibos-studente diep ontstel,” het Emuel Venter, ʼn inwoner van Taaibos gesê.

AfriForum Jeug het ʼn dringende beroep op die UP-bestuur gedoen om die saak te ondersoek.

“Hierdie aanval bewys weereens alle rasse word geraak deur rassisme. AfriForum Jeug eis dat die universiteit dissiplinêre stappe eenvormig toepas in alle rassisme-verwante insidente. Dit moet dringend deur die UP aangespreek word,” sê Monique du Randt, woordvoerder van AfriForum Jeug.

UP-sekuriteit is besig om die video-opnames van sekuriteitkameras by die hek asook data van die sekuriteitshekke na te gaan. Die aanvallers sal binnekort geïdentifiseer word. Sewe inwoners van Taaibos is as getuies geïdentifiseer.

Du Randt sê die aanval kon moontlik aangespoor gewees het deur die uitslag van die studenteraadverkiesing waarin AfriForum Jeug 50 % van die setels gewen het.