logo

Prof. Kgwadi ontvang memorandum oor Afrikaans

Prof. Dan Kgwadi het vandag gehoor dat Afrikaans as onderrigtaal op die NWU se Potchefstroom-kampus ononderhandelbaar is.

“Hiér trek ons nou die lyn. Ons gaan nie toelaat dat ʼn handjievol radikale ons kampus kom verwoes en verdeel nie.” Só sê Hans Gildenhuys, voorsitter van die AfriForum Jeug-tak op NWU se Potchefstroom-kampus.

Studente ry nou verby ander kampusse wat histories Afrikaans was, soos die Universiteit van Pretoria en die Universiteit van die Vrystaat, om ’n tuiste by die NWU-Puk se kampus te kom vind. Die rede hiervoor is dat die NWU-Puk die laaste tuiste is waar jong Afrikaanse studente onderrig in hul moedertaal kan kry.

Volgens Gildenhuys verwerp AfriForum Jeug Pukke ReformPUK se argument dat die universiteit se taalbeleid misbruik word om teen Engels studente te diskrimineer.

“Só ’n stelling is eensydig en ongegrond. Hierdie klein radikale groepie van slegs 50 lede is besig om die NWU-Puk gyselaar te hou,” sê Gildenhuys.

ReformPUK hou Afrikaans as die vyand voor om die fokus van hul ware agenda weg te hou. ReformPUK se blatante rassisme maak egter hul agenda van verwoesting en verdeling baie duidelik. Een van ReformPUK se leiers, Tsholofelo Motlogeloa, het reeds in 2012 op sy Facebook-profiel geskryf: “I hate white people with [a] passion n [sic] they must f***** go back 2 [sic] Europe”.

“Ons as Afrikaner-studente kan nie toelaat dat die rassistiese ReformPUK-groep ʼn gesonde universiteit verwoes nie,” sê Gildenhuys.

AfriForum Jeug Pukke eis dat hul memorandum met die volgende eise voor die NWU-raad dien:

  • Die verwerping van ReformPUK se memorandum;
  • Die behoud van Afrikaans as enkele-onderrigmedium;
  • Die opleiding van tolke en die uitbreiding en opgradering van tolkdienste;
  • Die behoud van ʼn kurrikulum van gehalte;
  • Die aanstel van gehaltepersoneel wat Afrikaans magtig is;
  • Die behoud en beskerming van Afrikaner-erfenis;
  • Die transformasiebeleid word nie op studente afgedwing nie;
  • Die plasing in koshuise wat op meriete gebaseer is;
  • Die nie-uitstel van eksamens op die NWU-Puk-kampus;
  • Die behoud van gesonde studentetradisies om goeie studentelewe te verseker;
  • Die vervolging van mnr. Motlogeloa weens sy rassistiese aanmerkings; en
  • Die verwerping van ReformPuk as organisasie.

AfriForum Jeug Pukke het met ’n aantal studente gepraat wat van tolkdienste gebruikmaak, en dié studente is almal gelukkig met wat die universiteit in plek het om Engelse studente op die NWU welkom te laat voel.

Lees memorandum hier.