“Pres. Mbeki, herklassifiseer ons as Afrikane,” vra ‘bleek’ studente wat hulself swart verf

ʼn Groep van 20 universiteitstudente met “ʼn ligte gelaatskleur” – wat lid is van die burgerregte-inisiatief AfriForum – het hulleself vandag swart geverf en daarna ʼn memorandum aan President Thabo Mbeki se kantoor in Pretoria oorhandig, waarin hulle die President vra om hulle te herklassifiseer as Afrikane (Africans).  As deel van die memorandum het die studente ook elkeen EEA1-vorms van die Departement van Arbeid, waarop hulle hulleself as Afrikane klassifiseer, by die Presidensie ingehandig om deur die President as korrek gesertifiseer te word.  

Volgens nuwe regulasies rakende die Wet op Gelyke Indiensneming, wat in Mei vanjaar gepubliseer is, moet individue voortaan, vir die doeleindes van dié wet, hulleself klassifiseer deur aan te dui of hulle Afrikane, Indiërs, bruin, of wit is.  Die studente het ook ʼn beroep gedoen op almal wat in die land gebore is, om hulleself as Afrikane te klassifiseer wanneer die EEA1-vorm ingevul word.

In die memorandum, wat deel vorm van AfriForum se veldtog teen die herlewing van rasseklassifikasie, regverdig die studente hulle beroep om as Afrikane geherklassifiseer te word op ʼn uitspraak wat President Thabo Mbeki op 8 Mei 1996, met die aanvaarding van die land se Grondwet in die Parlement in sy “I am an African”-toespraak gemaak het.  Mbeki het toe gesê: “Die grondwet, waarvan ons die aanvaarding vier, verklaar ondubbelsinnig dat ons weier om te aanvaar dat ons Afrika-identiteit gedefinieer sal word op grond van ons ras, kleur, geslag of historiese oorsprong.  AfriForum voer ook namens die studente aan dat daar sedert die skrapping van rasseklassifikasie-wetgewing op 28 Junie 1991 geen wetlike raamwerk of objektiewe maatstawwe bestaan op grond waarvan die rasseklassifikasie uitgevoer kan word nie.

Volgens die studente behoort dit nie in terme van Mbeki se “I am an African”-toespraak vir hulle nodig te wees om hulleself swart te verf om Afrikane te wees nie, maar het hulle tog besluit om dit te doen aangesien die regering die afgelope paar jaar die Afrika-identiteit gelykstel aan swart.  In terme van regstellende aksie-wetgewing word “swartmense” byvoorbeeld gedefinieer as “… ‘n generiese term wat Afrikane, bruinmense en Indiërs beteken”.  Die studente voer aan dat hulle met hulle aksie wil wys dat hulle nie sal toelaat dat ʼn rasse-idiologie hulle ontneem van hulle Afrika-identiteit en hulle reduseer tot tweedeklas-burgers in die land van hulle geboorte nie.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê dat die studente se tong-in-die-kies aksie ook ʼn baie ernstige boodskap uitdra, naamlik dat die land se regering besig is om te verval in ʼn belaglike rasbeheptheid.  Volgens Kriel behoort pogings om ongelykhede in die land uit te wis, op sosio-ekonomiese faktore, eerder as op ras, te fokus.