Vul gerus die vorm in vir enige navrae.

Naam *

E-pos *

Navrae

Taal/Language

Oom André, AfriForum werk met die post ’94 realiteit

deur in Dokumente Hou ons hier dop op 21 August, 2014

Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug skryf ‘n ope brief aan André le Roux rakende sy kritiek teenoor AfriForum 

Beste oom André,

Dankie dat Oom AfriForum gelukwens met ons organisasie se 100 000 lede. As jong Afrikaner en Suid-Afrikaner gee AfriForum se groei my hoop vir die toekoms. Anders as die geleentheid wat Oom gehad het om Oom se vol loopbaan te kon volg binne die relatiewe beskermde omgewing van die vorige bedeling, moet ek en my mede jong Afrikaners vandag poog om ons toekomsdrome te bou in ‘n meer vyandige omgewing.

Jong Afrikaners staar vandag die onaangename realiteit in die gesig waar ras as paspoort jou toekoms bepaal, ’n realiteit waar regeringsbeleide direk diskrimineer teen ’n Afrikaner se toekoms, ’n realiteit wat dit nodig maak vir groeiende organisasies soos AfriForum om op te staan vir ons grondwetlike regte.

Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek gun dit vir Oom en al die ander mense wat met harde werk sukses in hulle loopbane kon bereik. Anders as wat Julius Malema beweer, weet ek dat sukses nie vir Oom en ander mense van my ouers se geslag op ‘n skinkbord aangebied is nie. Al wat ek vra is dat mense soos Oom vir my en die huidige geslag werkende mense ook die geleentheid gun om vir ons en ons kinders ‘n toekoms te bou.

Ek bedoel dit nie neerhalend nie, maar Oom se kritiek op AfriForum getuig van ‘n voor-1994-benadering. Voor 1994 het die partypolitiek ‘n reuserol gespeel in Afrikaners se pogings om oorlewing hier aan die suidpunt van Afrika te verseker. Sukses was gemeet aan ‘n party se vermoë om ‘n verkiesing te wen en ‘n regeringsverandering teweeg te bring. Ek het daarom begrip dat Oom AfriForum se sukses vandag steeds probeer meet aan die verouderde staatlike siening van mag, deur aan te dui dat Mugabe en die ANC steeds regeer, ten spyte van AfriForum se suksesse.

Die feit is egter dat die wêreld en gevolglik die realiteit waarbinne AfriForum vandag moet funksioneer, aansienlik verskil van die voor-’94-realiteite.  Die feit dat die Nasionale Party se onderhandelaars nie institusionele inspraak vir minderhede beding het nie, vereis ‘n nuwe benadering wat ‘n groter premie plaas op aksies vanuit die burgerlike samelewing as op ‘n onrealistiese poging om verkiesings te wen in omstandighede waar die demografie dit nie toelaat nie.

Die gesaghebbende kommentator, Xolela Mangcu, toon begrip daarvoor dat institusionele partypolitieke mag nie al wyse is waarop die gang van die geskiedenis verander kan word nie. Hy het onlangs geskryf dat swart Suid-Afrikaners “‘n AfriForum” nodig het, aangesien volhoubare beïnvloedingsmag onder meer in burgerlike groeperings soos AfriForum, die sosiale media en die internet lê. Hierdie neiging dat staatlike mag afneem en die burgerlike samelewing se beïnvloedingsmag groter word, is ook internasionaal merkbaar. Dit word treffend uiteengesit in Moises Naim se toespraak “The End of Power”, wat op YouTube gesien kan word.

Oom, wanneer ʼn mens ‘n kopskuif gemaak het om te verstaan hoe ʼn mens as minderheidsgroep binne die nuwe bedeling en inderdaad die nuwe wêreld te oorleef, dan sal mens nie AfriForum se 100 000 aktiewe lede as onbeduidend probeer afmaak, soos wat Oom poog om te doen nie. Daar is ‘n reuseverskil tussen 100 000 mense wat op ‘n georganiseerde basis deurlopend ‘n bydra tot AfriForum  se aktiwiteite lewer en mense wat bloot een keer in 5 jaar ‘n kruisie agter ‘n party se naam maak. Die dagblad Beeld waarin Oom kritiek op AfriForum gelewer het, druk daagliks aansienlik minder koerante as wat AfriForum lede het. Ten spyte hiervan sou dit dwaas wees om die rol wat koerante kan speel as onbeduidend af te maak, soos wat Oom met AfriForum se ledetal probeer doen.

AfriForum is so onlangs as agt jaar gelede gestig, juis om as nuwe organisasie binne nuwe realiteite en met ‘n nuwe werkswyse en ‘n droom vir ‘n beter toekoms ‘n verskil te maak. Selfs in AfriForum se beginjare met slegs 3 personeel en min lede, het die nuwe tegnologie dit moontlik gemaak vir AfriForum om die multinasionale maatskappy Nestlé te verhoed om verder aankope te doen by die melkplaas wat Robert Mugabe se vrou onregmatig bekom het. Duisende mense wêreldwyd het in een dag op Nestlé se webwerf beswaar gemaak toe AfriForum se boodskap op die sosiale media vlam gevat het.

‘n Praktiese en onlangse plaaslike voorbeeld is toe die munisipaliteit in Louis Trichardt weens die strategiese optrede van AfriForum se plaaslike tak, gedwing is om watervoorsieningsprobleme volhoubaar te herstel. In terme van Oom se logika, sou AfriForum die plaaslike verkiesing daar moes wen om dit reg te kry. Met ‘n goeie plan, energie en ‘n goed georganiseerde tak, kon AfriForum onder leiding van sy takvoorsitter in die dorp, Wally Schultz, daarin slaag dat die munisipaliteit as deel van ‘n hofskikking onderneem het om belangrike instandhoudings- en ontwikkelingswerk aan die watertoevoerstelsel te laat doen.

Oom, ek sien uit na die toekoms, omdat ons vasbeslote is om met ons nuwe benadering, die selfdoenbenadering, ‘n beter toekoms te help skep.