Wie is ons?

AfriForum Jeug is amptelik in Maart 2008 in die lewe geroep en is sedertdien as ’n geloofwaardige jeugorganisasie gevestig wat ons vir die belange van jong Afrikaners beywer. Van hier kan ons net verbeter en verder bou!

AfriForum Jeug is die amptelike jeugafdeling van AfriForum, die burgerregte-inisiatief wat deel van die Solidariteit Beweging vorm. AfriForum Jeug berus op Christelike beginsels en ons doel is om selfstandigheid onder jong Afrikaners te bevorder en die realiteite in Suid-Afrika te beïnvloed deur veldtogte aan te pak en aktief vir jongmense se burgerregte standpunt in te neem. Ons wese behels onder meer die verkryging van kulturele vryheid en die uitbou van die Christelike demokratiese ideëraamwerk.

  • Ons is geskoei op Christelike waardes.
  • Ons staan regstellende aksie teen.
  • Ons wil jongmense se leierskapsvaardighede, kennis en vaardighede ontwikkel.
  • Ons bevorder die nastreef van ’n gesonde studentelewe.
  • Ons bevorder Afrikaans en moedertaalonderrig.
  • Ons bevorder gehalte-onderrig.
  • Ons wil jongmense se veiligheid verseker en verskerp.
  • Ons wil jongmense in dorpe mobiliseer om ’n verskil in hul gemeenskappe te maak.

Visie

Om ’n selfstandige platform te skep waarmee die jeug wil assosieer op ’n sosiale en aktivistiese vlak. Die jeuggemeenskap wat deur hierdie platform gevestig word, sal standpunt inneem en self verantwoordelikheid neem vir hul toekoms aan die suidpunt van Afrika.

Om ’n bymekaarkomplek te wees vir jong Afrikaners op kampusse en in dorpe waar AfriForum-strukture gevestig is en om as spreekbuis op te tree in gevalle waar daar teen jongmense gediskrimineer, hulle van hul moedertaalonderrig ontneem en hul grondwetlike regte geskend word. Om te streef vir die uitbou van Afrikaans en Afrikanertradisies, en opleiding aan jongmense te bied om hulself te bemagtig om standpunt te kan inneem oor kwessies wat hul toekoms beïnvloed.

Missie

Om selfstandigheid onder jong Afrikaners te bevorder, die werklikhede in Suid-Afrika te beïnvloed deur veldtogte te loods en aktief standpunt in te neem vir jongmense se burgerregte.

Om die jeug te bemagtig en saam te snoer deur die daarstel van volhoubare projekte waarmee hulle kan assosieer.

Blogs

BLOGS

veldtogte