Vul gerus die vorm in vir enige navrae.

Naam *

E-pos *

Navrae

Taal/Language

Nou wie op aarde was President MT Steyn?

deur in Blog op 09 April, 2018

             ‘n  Beknopte biografie vir die Millenniale Suid-Afrikaner

Daar is tans spanning oor die Anton van Wouw beeld van President Marthinus Theunis (MT) Steyn op die Universiteit van die Vrystaat se Bloemfontein Kampus. Ten spyte van die feit dat die standbeeld ʼn monitêre waarde as ʼn kunsstuk het en daarmee ʼn bate is vir die vermelde universiteit, het dit ook ʼn waarde as ʼn opvoedkundige en kulturele bate vir die millenniale generasie. Die woord opvoedkundig sal dalk die wenkbroue lig.

Is dit regtig nodig vir enige generasie om beelde te hê om die spesifieke generasie aan vervloë dae te herinner? Veral as daar duidelike teenstrydighede is tussen ʼn kontemporêre generasie en een wat reeds bestaan het? Vra die studente by die Universiteit van Kaapstad oor Cecil John Rhodes en die kreet is: “Verwyder!”, vra die spesifieke studente wat die President C.R. Swart beeld beskadig het en hulle roep sal wees “Vernietig!” Die vraag of die teenswoordige ikonoklaste die storie van die uitgebeelde persoon ken is retories van aard. Die burgers van die staat Virginië moes dit ook beleef toe daar ophef gemaak was oor Generaal Robert E. Lee. Dit was duidelik dat selfs die gewone burger van die VSA nie die verskillende weergawes van hul land se geskiedenis geken het nie. Net een vae weergawe was goed genoeg en die onkundigheid het gelei tot die verwyderding van ʼn publieke bate vir enige moontlike, denkbare konstruktiewe doel. Die Universiteit van die Vrystaat se hoogste gesag staar nou dieselfde kwessie in die gesig. Om hulle en veral die millenniale student op hul kampus so bietjie uit te help om ʼn wyse besluit oor die MT Steyn standbeeld te maak, was dit Afriforum se wens dat ek kortliks die lewe van die laaste president van die Republiek van die Oranje-Vrystaat (1854-1902) moes neerpen. Geagte leser neem dan asseblief kennis dat hierdie net sy lewensverhaal in ʼn neutedop is. Ek kan wyle Prof M.C.E. van Schoor se biografie van die ontslape president voorstel omdat dit een van die min, en mees onlangse, biografieë van President Steyn is.

Familie, Geboorte en Kinderdae

MT Steyn is op die 2de Oktober 1857 op die plaas Rietfontein, Winburg distrik, gebore (mens kan vandag nog sy geboortehuis by die Winburg Voortrekkermonument sien). Van ʼn generasie-studie perspektief kan mens hom, met risiko, klassifiseer as deel van die laat-Viktoriaanse generasie. Die politieke kwessies, ekonomiese realiteite en die kulturele invloede van daardie tydperk benodig ʼn studie op sy eie maar dit sal die invloede wat die jong MT Steyn verkry kry mooi uiteensit. Mens is mos tot ʼn mate die produk van jou tyd, of hoe? Dit kan wel gesê word dat dit ʼn vindingryke tydperk was om in groot te word. Nuwe uitvindsels en ontdekkings het stelselmatig die lewe van die generasie wat in daardie tydperk groot geword het se leefstyl verander en MT Steyn sou self ʼn unieke ervarings hê oor hoe die Vrystaat as ʼn staat stelselmatig verander het. Die rede was dat MT Steyn se vader, bekend as Marthinus Blinkstewels (so genoem as gevolg van sy netjiesheid), was nie alleenlik ʼn volksraadlid nie maar deel van die uitvoerende raad van die Vrystaat se regering. Marthinus “Blinkstewels” Steyn was ʼn smid van beroep wat Swellendam verlaat het om in die destydse Oranje-rivier Soewereiniteit te gaan boer. Dit is daar waar hy Cecilia, ʼn nooi Wessels, by Winburg ontmoet het. Teen die tyd toe MT Steyn se pa die plaas Zuurfontein kon bekostig, nadat hy alles verloor het gedurende die Vrystaat se eerste oorlog met die Basotho’s van Koning Moshoeshoe, moes MT Steyn gedurig minder tyd met sy pa bestee as gevolg van landsake. Professor van Schoor skets die situasie in ʼn meer positiewe lig maar as gevolg van ʼn pa wat meer in Bloemfontein was as by sy gesin by Zuurfontein, kan dit dalk verduidelik waarom MT Steyn swak gevaar het op skool, veral toe hy by Grey Kollege ingeskryf het.

Teen die ouderdom van 16 het MT Steyn (hierna MT) besluit om sy akademiese opleiding te laat vaar. Hy wou liewers saam sy broer, Tewie, boer. Sy pa het geen ander opsie gehad as om MT sy sin te gee nie omdat MT se ouer broer Pieter reeds die gesin verlaat het om sy eie weg te vind. Van Schoor argumenteer dat die natuur en die plaaslewe die ware trekpleisters was vir MT om sy pa te oorreed om hom terug plaas toe te stuur. Miskien kon dit ook wees as gevolg van ʼn vervelige kurrikula en die wanadministrasie van Grey Kollege onder die Rektorskap van ʼn ene Mostert, wat die belangstelling in akademiese kennis vir MT onaantreklik laat lyk het. Die millenniale generasie, wat nie enige diensplig na skoolopleiding moet doen nie, sal seker MT Steyn se besluit kan verstaan en selfs hulself daarmee kan vereenselwig.

Wat MT se redes was om sy skoolopleiding te staak het wel nie ʼn impak gehad oor sy voorliefde vir lees nie. Alhoewel hy die verantwoordelikheid saam met sy broer moes dra om ʼn plaas te bestuur, het hy steeds aanhou lees en sodoende homself geleer oor verskillende vakgebiede. Die episodiese ontmoetings met sy pa en die res van die Vrystaat se gesaghebbendes het verseker ook ʼn rol gespeel om sy belangstellings te prikkel. MT Steyn het dus ʼn “gap jaar” gevat toe hy Grey Kollege verlaat het om op sy pa se plaas te werk en sodoende sy belangstellings verder te ondersoek. Die millenniale generasie, wat nie enige diensplig na skoolopleiding moet doen nie, sal seker MT Steyn se besluit kan verstaan en selfs hulself daarmee kan vereenselwig.

Student, regsgeleerde en staatshoof

Een aand terwyl Steyn gaste op sy pa se plaas onthaal het, was ʼn sekere John Buchanan teenwoordig. Gedurende een van die gesprekke het Buchanan, wat self ʼn regsgeleerde was, verbaas gestaan oor die manier hoe die jong MT Steyn ʼn saak benader het. Buchanan het probeer om die jong man te oortuig om van homself ʼn regsgeleerde te maak. Wat ook al Buchanan gesê het, dit het vas gebly in die geheue van die jong Vrystater. Op die ouderdom van 20 jaar het hy, saam ʼn goeie vriend, na Nederland gereis om eers sy finale vlakke van skoolopleiding by die Deventer Gimnasium te voltooi. Met ander woorde, MT Steyn het in Nederland gematrikuleer. Dit was toe dat hy tot die besef gekom het dat ʼn regsgraad uit Engeland hom beter sou dien. In daardie jare was die tersiêre opleiding anders as vandag. Die eksamen kon geskryf word sodra die student oortuig is dat hy reg sou wees om die eksamen te voltooi. Teen Januarie 1880 het Steyn sy eksamens by die Inner Temple geskryf en geslaag. Hy kon toe in 1882 geregistreer word as ʼn advokaat of wat hulle in Engeland genoem het: Barrister. Hy het toe besluit om terug te keer na die Oranje-Vrystaat. Min Vrystaters het die geleerdheid gehad wat Steyn in Nederland en in Engeland verkry het. Sodoende kon Steyn verseker wees van ʼn werk toe hy klaar gestudeer het; vrygestel van ʼn vrees wat baie millenniale Suid-Afrikaners tans in die gesig staar.

Teen 1889 was hy die Prokureur-generaal van die Oranje Vrystaat nadat hy sedert sy terugkoms eers probeer het om sy eie praktyk op te bou. Net soos baie jong mense vandag wou hy seker ook nie vir ʼn “baas” gewerk het nie. In 1895 het hy die keuse gemaak om in ʼn politieke hoedanigheid te dien. Toe President F.W. Reitz bedank het, het Steyn sy belangstelling aangedui om die volgende President van die Oranje-Vrystaat te word. Sy enigste opponent was sy vrou se oom, J.G. Fraser. Steyn was verkies en sodoende gesien as die “jong president” en die eerste gebore Vrystater wat die amp van president beklee. Verseker het dit baie jong Vrystaters geïnspireer en weer laat glo in ʼn blink toekoms vol moontlikhede indien hulle hulself in ʼn kundigheid of ambag bekwaam. Ongelukkig het die donkerwolke van oorlog oor Bloemfontein saamgepak.

Steyn se rol gedurende en na die Anglo-Boere Oorlog (1899-1902)

Op die 22ste September 1899 het Steyn die volgende woorde in die 4de Raadsaal, in Bloemfontein, gespreek:

Hulle [die Britte] wil die twee republieke, waar die Afrikanergees lewend gehou word, uitwis en sodoende die Afrikanervolk vernietig en indien moontlik uitroei. Kan die een Afrikaner neutraal bly terwyl die ander vir Afrika sterf? Ek weet wat dit vir twee swakke republieke is om te stry teen die magtigste ryk wat die wêreld ooit geken het, maar ek weet dat indien dit tot oorlog mag kom, ons nie stry vir die stemreg nie, maar vir die bestaan van die Afrikanervolk.[1]

In ʼn land soos Suid-Afrika waar die legendes oor vryheidsvegters politici en publiek beïndruk of laat nadink, moet hierdie woorde deur MT Steyn mos dit duidelik laat blyk dat die man inderdaad gesien kan word as ʼn “Vryheidsvegter”. Van ʼn ander perspektief kan hy ook gesien word as ʼn vredemaker. Dit was hy wie President Paul Kruger van die ZAR en Lord Alfred Milner uit die Kaap om ʼn tafel wou kry om die spanning tussen die twee, deur middel van ʼn goeie uitpraat, te hanteer. President MT Steyn was nie lus vir ʼn oorlog nie maar hy het verstaan dat die Vrystaat en die ZAR ʼn beter kan staan teen ʼn sterker mag as hulle saam met mekaar baklei. Steyn en Kruger kon goed met mekaar saamwerk en beide het saam gestem dat ʼn verdrag tussen hul twee Boere Republieke nodig was. Steyn se gedrag voor die oorlog van 1899-1902, vertoon ʼn Staatsman wat orde wou behou en behoorlik ʼn saak beredder.

Selfs nadat die hoofstad van die Oranje-Vrystaat op die 13de Maart 1900 ingeneem is, het Steyn nie in sak en as gaan lê nie of trou aan die Britse troon gesweer nie. Hy het saam met sy regering-ter-velde getrek en sodoende die weerstand teen Britse inname verder beplan. Hy het nie sy kommando’s gedurende die oorlog eenkeer verlaat nie al was hy dodelik siek. Dit moet iets aan die millenniale Suid-Afrikaner sê wanneer dit kom by deursettingsvermoë en lojaliteit aan jou Mede-mens se welstand, veral in tye van nood. President Steyn het in sy jare te velde verskillende noue ontkominge gehad. Sy lewe was deur sy Griekwa agterryer, Ruiter, gered en as daar een gedeelte is wat die millenniale Suid-Afrikaner kan doen om die balans van Geskiedkundige herdenking gelyk te maak, is dit om iets vir Ruiter op te rig.

President MT Steyn was nie gesond genoeg om by Vereeniging te wees om oor moontlike vrede met die Britse ryk te praat nie. Generaal CR De Wet moes dit namens hom doen en die verdrag teken. Met De Wet se handtekening op die verdrag het Steyn sy amp as Staatshoof van die Oranje Vrystaat verloor. MT Steyn moes wel behandeling kry vir sy myasthenia gravis; ʼn siekte wat die spiermassa van die president aangetas het. Mens sien in die foto’s wat van hom na die oorlog geneem is hoe hy sukkel om sy oë behoorlik oop te hou.

Nie die Britse ryk en nog minder sy siekte het die oud-Staatsman na die oorlog tot ruste laat kom nie. Retrospektief het hy genoeg rede gehad om uit te tree en sodoende rustig met sy lewe voort te gaan. Hy het wel nie. Alhoewel hy die eed van getrouheid aan die Britse kroon gesweer het, was dit moontlik vir hom om in die Britse Oranje-Rivier Kolonie en later in die Unie van Suid-Afrika ʼn beduidende rol te speel: soos byvoorbeeld in die plaaslike politiek van sy voormalige republiek.

Die feit dat hy met Generaal J.B.M. Hertzog en Generaal CR De Wet die Nasionale Party in die Vrystaat in 1914 gestig het, maak spesifieke jong denkers effens ongelukkig. Die feit dat die Herenigde Nasionale Party onder Dr D.F. Malan in 1948 met die beleid van Aparte Ontwikkeling begin het, word nou deur hierdie einste jong denkers terug na 1914 getrek met die stigting van die Nasionale Party. In ander woorde, omdat President MT Steyn een van die Mede-stigters van die Nasionaal Party was, is hy ook verantwoordelik vir die implementering van die Apartheid-beleid sedert 1948. Dit is ten spyte van die feit dat die man in 1916 gesterf het. Dit sal onwys wees om President Steyn te verbind met Apartheid. Behalwe vir die feit dat hy teen 1948 reeds 32 jaar oorlede was en sodoende nie die leiers van daardie tyd persoonlik oor die beleid kon spreek nie, is dit moeilik om te kan bewys dat hy enigsins sou saam stem of nie met die beleid van die Herenigde Nasionale Party onder Dr Malan. Indien ʼn mens so kan redeneer, sal dit dan net so maklik wees om te redeneer dat John Dube, eerste president van die SANNC (voorloper van die ANC), verantwoordelik is vir transformasie en grondonteiening sonder vergoeding. Dit is beter om ʼn historiese figuur op sy eie baadjie te takseer.

Die kentekens op oud-President MT Steyn se baadjie pronk van die stigting van die C&N Oranje Meisieskool, die oprigting van die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein (waar President Steyn se oorskot geïnterneer is) en die aanhoudende verdediging van die Afrikaner in tye van sosio-ekonomiese nood direk na die oorlog. Op die 28ste November 1916, op die ouderdom van 59, was oud-President MT Steyn besig met ʼn toespraak toe hy inmekaar gesak het. Selfs sy laaste oomblikke was toegewy aan die opheffing van die Afrikaner gemeenskap. Sy begrafnis was deur ʼn magdom mense bygewoon wat die oud-President wou groet. Ter ere van sy lewe en die impak wat hy in die lewens van sy Mede-Vrystaters, Suid-Afrikaners en ook in die algemene diskoers van die Suid-Afrikaanse geskiedenis gemaak het, is die Anton van Wouw beeld by Grey-kollege, tans bekend as die Bloemfontein kampus van die Universiteit van die Vrystaat, opgerig. Dit was nie opgerig om die komende generasies van mekaar te vervreem of om nie-Afrikaners neerhalend oor hulself te laat voel nie. Die standbeeld is daar as ʼn beginpunt om sy lewe en strewe, en die mense wat saam met hom in daardie spesifieke historiese tydperk geleef het, self te begin ontdek en te sien hoe sy biografie jou wêreldperspektief kan versterk. Die enigste wetenskap wat mens daarmee kan help is natuurlik Geskiedenis. Ongelukkig is kennis oor hierdie wetenskap deur die vors van die laaste paar dekades swak benader en sodoende sit die jong denker met ʼn wankelende fondasie oor Suid-Afrika se komplekse verlede. Geen wonder hulle soek eenvoudige oplossings vir komplekse vraagstukke! Standbeelde soos die een van President MT Steyn kan natuurlik help om die historiese bewussyn van die jongere generasie te kweek wat weer verder uitgebou kan word deur die tegnologie wat tot hul beskikking is.

Met elke generasie van nuwe denkers wat by die Universiteit van die Vrystaat aanklop, is die standbeeld, en legende, van MT Steyn daar om te dien as bewys wat gedoen kan word al is jy raadop, al is jou stryd moeilik, al is die opponent wat jy teen staan sterker as jy en hoe jy afhanklik jy kan wees van jou Mede-Suid-Afrikaner in ʼn tyd van nood. Vir ʼn man wat bekend was vir sy begeerte om Suid-Afrika na die Anglo-Boere oorlog te herstel en verder op te bou, al was dit onder die vlag van Brittanje, sal die afbreek van sy monument by die Universiteit van die Vrystaat, regtig ʼn ironiese gebeurtenis wees.

 

[1] Uit M.C.E. van Schoor (1997) ‘n Bittereinder aan die woord, Oorlogsmuseum van die Boererepublieke, Bloemfontein.