’n Stem uit die binnekamers

In die afgelope vyf maande het ’n mediastorm rondom die NWU-Potchefstroomkampus los gebars wat glo deur ’n magdom verskuilde agendas aangevuur word.

In dié tyd het ons as studente die een verdraaide mening na die ander aangehoor en talle aanvalle en uitsprake verduur wat niks meer as beledigings was nie.

Die hele proses het verloop soos wat die radikales gehoop het dit sou:  Eers die vals beskuldigings van ’n ongesonde kultuur, toe ’n internet-oorlog tussen oudstudente en self-aangestelde “vryheidsvegters” – asof die NWU Potchefstroomkampus een of ander soort kweekskool vir die bose was, en toe die intrede van die staat.

Een ding was egter konstant afwesig: studentebetrokkenheid.  Dit is so dat daar onlangs vakansies, toetsweke, en eksamens was, maar tot op hede was meningleiers mense wat nie eens in Potchefstroom gesetel is nie, ‘n kommerwekkende feit, maak nie saak aan watter kant van die geveg die persoon hom bevind het nie.

Die vraag is egter:  Waarom?  Waarom staan veral Afrikaanse studente nie op vir ons kampus, vir ons taal en vir ons koshuise nie?

Dit sou onredelik wees om te redeneer dat ek, wat maar een student is, ’n volledige antwoord op dié vraag kan gee, maar ek bied graag my hipotese oor die ware rede vir hierdie stilte, sowel as my idee van die ideale pad vorentoe.

1.  Aard van ’n Afrikaanse student in die jaar 2014

Ek is daarvan oortuig dat elke geslag van elke bevolkingsgroep ter wêreld op ’n ideologiese vlak uniek is. Neem die Afrikaner as voorbeeld:  Studente van die 1950’s en die 1960’s was die pioniere van onafhanklikheid. Vir dié jongmense was die toekoms blink en die geleenthede groot.

Hul kinders, wat studente in die jare sewentig en tagtig was en die ouers van die huidige studentegeslag, was studente in ’n tyd toe almal hul stemme wou laat hoor.

Kennis van politieke kwessies en ’n duidelike standpunt op rasse- en taalkwessies was die status quo.  Vir die studente van die 1990’s en vroeg 2000’s was verandering waaronder die vorming van menings aan die orde van die dag.

Vir al dié groepe was hul denkwyses aangaande politiek gevorm deur hul omstandighede en daaglikse invloede.

Die logiese vraag is dan hoe die huidige Afrikaner-student, waarvan daar glo te veel in koshuise is, die wêreld om hom sien.

Neem eerstens in ag dat ons die geslag is wat groot geword het met die “nuwe Suid-Afrika”, die sogenaamde “Reënboognasie”, waar daar plek vir almal se drome was.

Dit is egter ons geslag wat moes uitvind dat daardie drome nie noodwendig was wat ons gehoop het dit sou wees nie.  Ons is die atlete wat nie na nasionale kampioenskappe toe gestuur is nie vanweë die kleur van ons vel, ons is die geslag wat moes speel vir 11 plekke in ’n Cravenweek-span van 22, die geslag wat verworpe beursaansoeke as mondigwordingsgeskenke gekry het.  Van agter in die tou staan en op alles behalwe meriete beoordeel word is my geslag die kenners.

Is dit dan enigsins skokkend dat die reaksie op onlangse valsbeskuldiging stilswye deur heelparty studente was?

Dit is al wat meeste van ons ken, om ondanks die storm aan te hou arbei sonder om te kla en te kerm – om stemloos voort te gaan.

2. Vervreming

Om aan te voer dat die gemiddelde Afrikaner-student polities apaties is, sou ’n fout aan die kant van die sogenaamde kenners wees.  Ons het doodeenvoudig geleer dat ons mening binne in die huidige bestek nie werklik ‘n verskil maak nie.  Politieke partye deur die bank paai die Afrikaner met ’n gediggie hier en ’n braai-verwysing daar, maar ons stemme word nie gehoor nie, ons menings word opsy geskuif of as rassisties afgemaak.  Kan enigiemand dan werklik verbaas wees dat ons stem stil geword het?

Politici gebruik al jare ’n transformasiemodel as stormram om die instellings waar ons leer en leef te oorrompel en van binne af te breek, ten koste van die land wat hulle gesweer het om te beskerm en op te bou.

Weereens vra ek, kan vervreming werklik teen iemand gehou word wat intrinsiek deur sy regering, sy eie mediabronne, en selfs meningvormers uit eie geledere vervreem word?

3.  Hoe die toekoms moes lyk

Hier keer ek graag terug na die term “Reënboognasie”.  Semanties is dié woord nie werklik ’n kopkrapper nie. Dit dui op ’n nasie van baie kleure en kulture.  Dit sou dus in praktyk beteken dat elke taal-, kultuur en geloofsgroe op sy eie kan funksioneer en groei, solank as wat die geheel steeds deur dié groei bevorder en vereer word.  Daar is op verskeie plekke grondwetlik hiervoor voorsiening gemaak. In die geval van ’n Afrikaanse universiteit is Artikel 29(2) die bepalende teks, siende dat hier gestel word: “Elkeen het die reg om in openbare onderwysinstellings onderwys te ontvang in die amtelike taal of tale van eie keuse waar daardie onderwys redelikerwys doenlik is.”

Die rede vir hierdie tipe toelatings deur die Grondwet is sodat elke kleur van die reënboog werklik kan floreer.  Digkuns, navorsing, studie en redevoering, behoort dus in die taal van keuse te geskied, juis omdat ons Grondwet dit toelaat.  Om dus, soos verskeie akademici onlangs gedoen het, aan te voer dat alle universiteite slegs in een taal onderrig moet gee, of dat die taal van die meerderheid by daardie instelling onderdruk moet word, is blatant ongrondwetlik en onderdruk die ideaal van ’n Reënboognasie.

Ons moet besef dat ons anders is, sodat ons kan besef dat ons dieselfde is.  Ek weier om in ’n taal anders as my moedertaal tersiêre onderrig te ontvang, want dit is my reg.  Natuurlik kom die teenargument van toegang tot onderrig, veral vir hulle in die omliggende area, na vore.

Die aantyging dat toegang van mense in die omliggende streek ontneem word moet noukeurig aangehoor word.  Tussen my ouerhuis en die NWU-Potchefstroomkampus is daar drie ander universiteite, waar ek nie volledig onderrig in my moedertaal kon ontvang nie, en  dus het ek nie vrye toegang tot daardie universiteite gehad nie, tensy ek my grondwetlike regte opgegee het.

Dit is ook nie net ek wat so voel nie, navorsing aangaande die tuisdorpe van studente wat in Potchefstroom studeer sal aantoon dat ’n magdom van ons, ons ouerhuise en leefstyle prys moes gee, juis om ons grondwetlike regte toe te eien.  Om die universiteit in Potchefstroom dus nou blindelings te verengels sou toegang vir baie meer ontneem as wat dit sou gee, ’n feit waarvan die regering deeglik bewus is, maar ongerieflik vind.

As hierdie land enigsins gaan word wat ons twee dekades terug gedroom het dit sou word, moet ons regering ophou om mense wat in taal, kultuur en oortuiging verskil in dieselfde blik te probeer druk.

As die regering nie bereid is om al die mense in dié land te akkomodeer nie, moet hulle ons daarvan inlig, en die front van samewerking laat vaar.

Hulle wat agter in die tou staan het ook regte en sal nie verder onderdruk word nie.

  • Paul Maritz is ’n vierdejaar student aan die Noordwes-universiteit se Potchefstroomkampus, asook voorsitter van AfriForum Jeug op die Potchefstroomkampus.