Mbeki moet oor moedertaalonderrig en regstellende aksie onder jongmense praat

Solidariteit Jeug het vandag ’n beroep op die president gedoen om die bevordering van moedertaalonderrig en die vrystelling van jongmense van regstellende aksie in sy staatsrede eerskomende Vrydag in te sluit.

Solidariteit Jeug se nasionale voorsitter, Ernst Roets, sê dat dit belangrik is dat hierdie kwessies reeds uit die staanspoor bespreek sal word sodat die weg gebaan kan word vir verdere debat in die komende jaar. Hy het bygevoeg dat president Mbeki reeds onder heelwat kritiek deurloop weens die elektrisiteitskrisis en sê vaardigheidstekorte het grootliks daartoe bygedra. “Regstellende aksie dryf talle kundiges uit die arbeidsmark. Nie net deur afleggings nie, maar ook deur indirekte faktore soos emigrasie.”

Verder sê Roets dat moedertaalonderrig in skole asook op tersiêre vlak aandag moet geniet. “Verlede jaar se matriekuitslae het weereens bewys dat skole wat moedertaalonderrig bied baie beter uitslae toon as skole waar daar geen moedertaalonderrig is nie”. Hy sê ook verskeie kundiges het hulle al uitgespreek oor die positiewe invloed wat moedertaalonderrig op leerders het en die regering moet dit in ag begin neem.