“Kill the Boer, Kill the Racist, Kill Afrikaans!”, lui ʼn pamflet op die Puk

AfriForum Jeug veroordeel die rassehaat-pamflet wat in badkamers by die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) versprei is, ten sterkste. Die pamflet, wat ’n Afrika-bevrydingsembleem soortgelyk aan dié van Sasco bevat, lui: “Kill the Boer, Kill the Racist, Kill Afrikaans.”

“Ons eis dat die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) onmiddellik dié geval in hulle verhoor insluit en ’n volledige ondersoek loods. Dit is duidelik dat daar ekstremistiese studente is wat nie met minderhede wil saamleef met wedersydse erkenning en respek nie,” sê Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug.

“Hierdie pamflet bevat duidelike haatspraak teen Afrikaners en Afrikaansprekendes, en verder sweep dit mense op om rassemoorde te pleeg,” sê Maree.

AfriForum Jeug het ’n skrywe aan die NWU én die SAMRK gestuur waarin geëis word dat ’n onmiddellike ondersoek van stapel gestuur word om te bevestig wie die individue en organisasie is wat die haat-pamflette versprei.

Die SAMRK het verlede week ʼn verhoor gehad oor transformasie by universiteite. Die Puk-kampus van die NWU is in die besonder geteiken deur die Kommissie omdat die kampus na bewering “te wit” is.

“Die SAMRK moet eerder op sulke blatante haatspraak fokus en begin besef dat Afrikaners ook slagoffers van rassisme is,” het Maree afgesluit.