Pukke

Kgwadi moedig radikales aan om te veg

AfriForum Jeug neem met skok kennis van die uitlatings wat gemaak is deur prof. Dan Kgwadi, visekanselier van die Noordwes-Universiteit (NWU), tydens ʼn studentevergadering van die groep #ReformPIK. Kgwadi het studente van die groep toegespreek en gesê: “I’m encouraging you to fight.”

“AfriForum Jeug veroordeel hierdie uitlatings van prof. Kgwadi ten sterkste en wil hom herinner dat die NWU nie ʼn politieke speelveld is vir universiteitsbestuur met verskuilde agendas nie maar ʼn akademiese instansie en dat prof. Kgwadi as visekanselier onpartydig behoort te bly,” het Hans Gildenhuys, voorsitter van AfriForum Jeug se Pukke-tak, gesê.

Die groep, wat blykbaar geen affiliasie by enige politieke party het nie, het verskeie uitlatings gemaak oor die universiteit asook ander instansies. Volgens die groep word swart studente op kampus onderdruk en is AfriForum Jeug die rede dat Afrikaans op kampus bly. Afrikaners is volgens die groep die “root racists” op kampus en die PUK-kampus kan daarom met hel vergelyk word.

“AfriForum Jeug erken die reg op vryheid van spraak, maar die reg kom met ʼn verantwoordelikheid. Baie van die uitlatings wat gemaak is, neig in die rigting van haatspraak,” het Gildenhuys afgesluit.

Navrae aan die studenteraad van die NWU-PUK het dit laat blyk dat hulle nie toestemming verleen het aan hierdie groep om ʼn massavergadering te hou in die lokaal nie. Dit beteken dat die groep óf toestemming van prof. Kgwadi self gekry het, wat vrae laat ontstaan oor sy objektiwiteit; óf dat hulle voortgegaan het sonder die nodige toestemming, wat beteken dat daar dissiplinêr teen die organiseerder opgetree moet word.