Jeugleiers met toegeplakte monde oorhandig moedertaalmemorandum aan Onderwysminister

AfriForum Jeug het vandag vreedsaam buite die Departement van Onderwys se kantore in Pretoria betoog teen wat bestempel is as die Departement se “growwe nalatigheid” in die uitvoering van sy grondwetlike plig om moedertaalonderrig te bevorder.  

Studenteleiers, studente en skoliere het as deel van die protesaksie hulle monde toegeplak om simbolies beswaar aan te teken teen die feit dat Afrikaans en ander inheemse tale by opvoedkundige instellings “doodgeswyg” word.  AfriForum Jeug het ook tydens die protesaksie ʼn memorandum aan ʼn verteenwoordiger van die Ministerie van Onderwys oorhandig, waarin die studente en skoliere se besware geopper word en waarin pertinente optrede versoek word om die miskenning van moedertaalonderrig te staak.  Die memorandum dui op die gebrek aan genoegsame befondsing aan meertalige onderwysinstellings wat hulle grondwetlike pligte ten opsigte van die bevordering van moedertaalonderrig wil nakom.

Volgens Ernst Roets, uitvoerende hoof van AfriForum Jeug, is die begrotingsom wat vir meertalige universiteite soos die Universiteit van Pretoria (UP) gemaak word, presies dieselfde as die som wat vir eentalige instansies soos die Universiteit van Witwatersrand (Wits) gemaak word.  “Dus word die universiteite wat meertaligheid en moedertaalonderrig wil bevorder, finansieel deur die departement gestraf.”

Roets het daarop gewys dat hierdie probleem nie net by tersiêre instellings voorkom nie, maar ook by skole.  Volgens Roets kan vanjaar se matrikulante se swak uitslae in die halfjaareksamen regstreeks herlei word na die gebrek aan moedertaalonderrig en die Departement van Onderwys se versuim om hierdie probleem aan te spreek.”

Die memorandum bevat ook inligting oor beleidskwessies van die Departement van Onderwys, sowel as voorbeelde van waar dié Departement nalatig was ten opsigte van die bevordering van meertaligheid en moedertaalonderrig.

 

“Dit wil vir ons voorkom of die regering nie daad by woord kan sit nie,” het Roets gesê.  “Die grondwet bied ʼn verskeidenheid van beloftes en menseregte, maar dit is die regering wat nie die nodige stappe te neem om daarvan ʼn werklikheid te maak nie.”