Hoekom sal jy nie in Afrikaans wil studeer nie?

Sowat ‘n maand gelede sit en wag ek op die Universiteit van Pretoria se Hatfield-kampus vir my klas om te begin toe ek van my medestudente hoor gesels oor iets wat my na aan die hart lê. Hulle gesprek gaan oor of dit beter is om in Engels of in Afrikaans klas te loop.

Tydens die gesprek hoor ek die ou bekende argument wat lui: “Engels is die wêreldtaal, dus maak dit die meeste sin om in Engels te studeer as jy wil vooruitgaan in vandag se wêreld.” Dit het baie selfbeheersing geverg om nie by hierdie debat betrokke te raak nie, nie omdat ek bang is vir die debat nie maar omdat ek nie ongenooid net daar kan inklim nie. Ek sit toe maar net en dink so by myself oor die wonder van Afrikaans en die opofferings wat deur soveel gemaak is vir die voorreg om in dié taal te kan studeer.

Daar is soveel voorbeelde van mense wat nie in Engels studeer het nie en van die suksesvolste manne en vroue geword het. Dink maar net aan name soos dr. Anton Rupert, prof. Chris Barnard en Christo Wiese om net ‘n paar te noem.

Die stelling dat dit beter is om in Engels te studeer word ook deur navorsing verkeerd bewys. Navorsing het oor en oor bevestig dat leer in jou moedertaal die maklikste en beste manier is om kennis op te doen.

Volgens ‘n verslag deur die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (UNESCO) wat in 2010 bekend gemaak is, is daar bevind dat swart Suid-Afrikaanse skoolkinders wat tussen 1955 en 1976 agt jaar lank onderrig in hul moedertaal ontvang het, baie beter presteer het as diegene wat later in Engels studeer het. In 1976 was die algehele slaagsyfer 83,7%. Daarna is die program verander en die tydperk waarin moedertaalonderrig gegee is, is na vier jaar verkort. Die slaagsyfer was in 1992 maar 44%.

Die Suid-Afrikaanse Systematic Evaluation National Report van 2005 het aangedui dat studente wat in hul moedertaal studeer, ‘n nasionale gemiddelde van 69% behaal. Studente wat nie in hul moedertaal studeer nie, het ‘n gemiddelde van slegs 32% behaal

Moedertaalonderrig is meer doeltreffend, hoofsaaklik omdat dit makliker is om iets in jou moedertaal te begryp. As jy dit in jou moedertaal begryp het, is dit ook soveel makliker om dit in jou tweede taal oor te dra indien nodig.

Tog blyk dit dat heelwat mense in ons land dit steeds verkies om nie in hulle moedertaal te studeer nie, terwyl ontwikkelde lande hulle juis toespits op die bevordering en uitbouing van moedertaalonderrig.

Die vraag is dus: Hoekom sal jy nie onderrig in jou moedertaal wil ontvang nie, terwyl dit sulke groot voordele vir jou kan inhou nie?

Eduan, is AfriForum Jeug se Nasionale Ondervoorsitter

Gaan lees gerus AfriForum Jeug se volledige verslag oor moedertaalonderrig by https://afriforumjeug.co.za/nuut/verslag-oor-moedertaalonderrig/