Wits-1024x679-1

Hersiene Wits-toelatingsbeleid misleidend

AfriForum Jeug verwelkom die wegval van die biografiese vraelys in die keuringsproses vir mediese studievelde vir 2015 aansoeke by die Universiteit van die Witwatersrand (Wits). Die universiteit het hulle toelatingsbeleid hersien vir al hulle mediese studievelde.

“Hoewel dit ’n klein tree in die regte rigting is, is dit wel kommerwekkend dat dit dalk weer vanaf 2016 kan deel uitmaak van die proses,” sê Eduan Dupper, woordvoerder van AfriForum Jeug.

Die vraelyste word onder meer gebruik om studente volgens hulle ras te keur en nie net vir navorsingsdoeleindes nie. Die hersiening bepaal verder dat kandidate se matriekuitslae 50% uitmaak van ʼn punt wat bereken word om toegang te bepaal en die Nasionale Normtoetse (NBT) die ander 50%.

“Dit is egter misleidend aangesien studente se meriete steeds nie ten volle vir hulle ’n plek verseker nie, maar dat 60% van toelatings gaan geskied op waar jy vandaan kom, in watter skool jy was of wat jou velkleur is,” sê Dupper.

AfriForum Jeug sal aanhou om druk uit te oefen op tersiêre instellings om weg te beweeg van toelatingsvereistes wat op ras gebaseer is.