Herregistrasie van AfriForum Jeug Tukkies geweier weens Afrikaanse aansoekvorms

AfriForum Jeug het sy regspan opdrag gegee om verskillende regsopsies te ondersoek na die Universiteit van Pretoria (UP) geweier het om AfriForum Jeug se Tukkies-tak as ’n kampus-organisasie te laat herregistreer omdat hulle aansoekvorms in Afrikaans by die departement van studentesake ingedien is.

“Hierdie optrede is ʼn direkte aanval teen Afrikaans deur personeellede van die departement van studentesake wat openlik teen die taal gekant is. Dit is ook teenstrydig met die universiteit se taalbeleid wat daarvoor voorsiening maak dat enige kommunikasie met die universiteit in Afrikaans of Engels kan geskied,” het Eduan Dupper, woordvoerder van AfriForum Jeug, gesê.

Dié besluit dat organisasies wie se aansoeke in Afrikaans is nie mag herregistreer nie is deur Mzikazi Noholoza, hoof van studentesake, geneem wat aan AfriForum Jeug gesê het dat Afrikaanse aansoeke nie aanvaarbaar is nie omdat sy Afrikaans nie magtig is nie.

AfriForum Jeug kon egter bevestig dat Noholoza by ʼn vorige geleentheid aan ʼn voormalige studenteraadslid gesê het dat sy Afrikaans magtig is, maar uit beginsel weier om Afrikaans te praat of te lees.

“Dit is nie die eerste keer dat Noholoza teen Afrikaans uitvaar nie. AfriForum Jeug is in besit van e-posse waar sy teen studente wat in Afrikaans kommunikeer diskrimineer, wat die vraag laat ontstaan of sy bevoeg genoeg is vir haar werk as hoof van studentesake,” het Dupper gesê. 

“Noholoza tree ook buite haar besluitnemingsbevoegdheid op aangesien verenigings op kampus deur die studenteraad geadministreer moet word en boonop niks met haar te doen het nie.” 

AfriForum Jeug eis dat UP Noholoza sal afdank en iemand met die gepaste vaardighede in haar plek sal aanstel.