Groenbussieprojek

Groenbussieprojek:

AfriForum Jeug is die afgelope twee jaar betrokke by liefdadigheidsprojekte by kinderhuise landwyd. Ons Groenemmerprojek was ʼn reusesukses en het ʼn werklike verskil in kinders se lewens gemaak.

AfriForum Jeug het egter in 2015 besluit om die Groenbussieprojek van stapel te stuur wat die insameling van R1 miljoen behels. Dit is ʼn reusetaak, maar vir ʼn reusedoel.

Dié doel is die Gracia-kinderhuis in Pretoria-Wes. Die kinderhuis het etlike jare gelede genoegsame behuising gehad, maar dié prentjie het verander. Die kinderhuis het hul behuising verloor, nadat die donateur oorlede is. Die huismoeder het die kinders in haar eie woning ingeneem en die huis aangepas om 40 tot 60 kinders te kan akkommodeer. Die kinderhuis ontvang geen staatsubsidie nie en is van borge afhanklik.

Dit is Gracia en AfriForum Jeug se droom om R1 miljoen in te samel. Die geld sal gebruik word om ʼn huis – direk langs die kinderhuis – te koop.

Die bykomende geld wat moontlik ingesamel sal word, sal vir verdere studies vir die kinders aangewend word.

Die geld word direk in ’n trust inbetaal, wat deur Hurter Spies Prokureurs geadministreer word.

Kyk gerus die video wat AfriForum van die kinderhuis vervaardig het en voel asseblief welkom om ons te kontak vir enige navrae.