Vul gerus die vorm in vir enige navrae.

Naam *

E-pos *

Navrae

Taal/Language

Movember

deur in op 05 November, 2014

Movember

Movember, die wêreldwye maand van snor-kweek, is om die draai en vanjaar is dit ook die onderwerp op AfriForum se bolip.

Die Movember-stigting het reeds in 2003 in Australië ontstaan, en vandag neem 21 lande, waaronder Suid-Afrika, al daaraan deel.

Die hoofdoel van die stigting is om bewusmaking te skep oor gesondheidsprobleme onder mans, wat onder meer prostaatkanker, testikulêre kanker en depressie insluit.

“Mo” is afgelei van die Engelse woord “moustache” en die stigting se grootste veldtog vind jaarliks in November, oftewel MOVEMBER plaas, waartydens miljoene mans hulle gladde bolippe verruil vir ʼn liplapa, alles vir die bewusmaking van mans se gesondheidsprobleme.

Volgens Louis Raubenheimer van die Movember-stigting in Suid-Afrika is die snor die ideale gesprekwekker. Hy voeg egter by dat vrouens se rol in die veldtog en verspreiding van die boodskap ewe belangrik is, al loop hulle nie met ʼn wollerige bolip rond nie.

Die stigting samel ook geld in vir verskeie gesondheidsprogramme vir mans.

Daarom het AfriForum dit goed gedink om vanjaar as organisasie by Movember betrokke te raak en ’n positiewe bydrae tot dié baanbreker-inisiatief te lewer.

Hoewel dit ʼn groot uitdaging was, het AfriForum daarin geslaag om die legendariese snorkundige, Ben Bekbesem, in te katrol om die maand by ons deur te bring om wenke te gee oor hoe om die perfekte snor te groei en te onderhou.

Bekbesem het by geboorte in 1978 reeds opslae in die media gemaak as die eerste en enigste baba wat met ʼn volgroeide snor gebore is. Sommiges het selfs bespiegel dat sy snor hóm gegroei het.

ʼn Reuse-standbeeld van dié kenmerkende snor kan in die stad, Snor York, wat ook na hom vernoem is, besigtig word en is een van die grootste toeriste-aantreklikhede ter wêreld.

Bekbesem het al op die voorblad van meer as 50 tydskrifte gepronk, waaronder die topverkoper, Snorgenoot.

Hy het ook al talle gesogte snorkennings oor die jare ingepalm en is onlangs vir die 35ste keer as “Liplapa van die Jaar” aangewys.

Bekbesem sal ook vanjaar die beoordelaar in AfriForum se interne Snor-kweek-kompetisie wees. AfriForum moedig ook alle lede van die publiek aan om hulle snorre te groei en vir beoordeling in te skryf. Bekbesem sal weekliks snor-vrae van die publiek beantwoord en drie wenners aan die einde van Movember aanwys.

Meer besonderhede oor die kompetisie sal volgende week in AfriForum se Vonkpos en op ons Facebook-blad beskikbaar wees.

Om meer oor Movember uit te vind asook hoe mans en vrouens by die veldtog betrokke kan raak, besoek http://za.movember.com